Mat 5=1-15 Kerkbode 1981
Christene moet die lig wees
LEES: Matt. 5:1-15
LEES: Matt. 5:15 dit skyn vir almal wat in die huis is.
SING: Gess. 264:1 en 11:1,2.
Matt 5:15 ... 'n mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander en dit skyn vir almal wat in die huis is.
BOODSKAP
Die kategismus leer vir ons dat die sakramente, doop en die nagmaal ingestel is om ons geloof te versterk. Die sakramente moet as't ware as 'n sigbare preek dien. Ons wil nou hierdie gedagte verder voer deur te sê dat die teenwoordigheid van die kerk in hierdie wêreld ook vir die wêreld 'n sigbare preek moet wees.
Die Here Jesus maak hier van 'n bekende beeld uit sy tyd gebruik om die gedagte aan sy volgelinge oor te dra. Vir sy dissipels, eenvoudige vissers, mense sonder sosiale aansien sê Hy "julle is die lig van die wêreld".
Hy vergelyk hulle teenwoordigheid in hierdie wêreld met 'n lamp wat op 'n staander geplaas is. Die kenmerkende van hierdie brandende lamp is dat dit sonder gedwongenheid spontaan sy lig laat skyn. Ons kan dit ook so sien dat die lamp deur sy skynende lig hom laat geld.
Hier word nie van 'n georganiseerde getuienis van die Christen gepraat nie, maar van 'n spontane getuienis, soos 'n hart wat vol is en die mond loop oor. Dit is soos 'n gesonde wingerdstok wat net eenvoudig vrugte dra.
Dit is interessant om op die siening van Karl Barth in hierdie verband te let. Hy sê wat 'n Christen maak is nie sy persoonlike genade en heilservaring nie, maar sy bediening. Bekering en roeping beteken om 'n opdrag tot diens aan die wêreld te ontvang. Barth sien 'n onlosmaaklike verband tussen wedergeboorte en dissipelskap. jou Christenskap is nie moontlik sonder diens aan die wêreld nie.
Die beeld van die stad bo-op die berg beklemtoon ook die feit dat die kerk nie verborge kan bly nie, maar dat dit opgemerk moet word - as daar nie van jou Christenskap op een of ander manier kennis geneem word nie, is dit net so goed of jou Christenskap bestaan nie!
Die gevaar is dat die lamp onder die maatemmer te lande sal kom. Hier funksioneer dit of baie swak of glad nie. Dit kom dan voor asof die kerk sigself onder 'n maatemmer verberg as dit net met homself besig is. Alles wat gedoen word is net vir homself. Dan word die kerk niks anders as 'n snoesige ghetto waar mense net hulleself behaag, dan word die kerk 'n vuurtjie waar ons net onsself warm maak.
Nee, dit mag nooit gebeur nie. Die lamp moet skyn vir almal wat in die huis is. Hier is 'n verwysing na die eenkamerwoning in die tyd van die Here Jesus. As die lamp aangesteek word en op die staander geplaas is, kan almal mekaar sien en almal kan ook sien wat in die huis aangaan. Die huis hier is die beeld van die ganse mensheid.
Die Christen, dus die kerk se teenwoordigheid, bring heil vir die ganse wêreld, vir die ganse mensheid. Die hele wêreld profeteer uit die lig van die skynende lamp. 'n Skrywer het gesê dat daar in Ou Israel die gesegde was "dat dit net bedelaars is wat in die donker slaap".
Die uitdrukking "hy slaap in die donker" beteken dan om geruineer te wees. Ons kan dan sê dat die samelewing sonder die Christen, die kerk, genuineer sal wees, stukkend, vervalle, skape sonder herder, kinders sonder 'n moeder.
In hierdie verband het Van Ruler met Kuyper se begrippe van algemene en besondere genade gewerk. Algemene genade - waar ons dink aan die genade wat God aan alle mense bewys, soos wanneer God die son oor regverdiges en onregverdiges laat opgaan en besondere genade waar die mens deur die Heilige Gees geroep en wederbaar is.
Van Ruler sê dat die algemene genade deur die besondere genade bevrug word. Die funksionering van die kerk
verdiep die algemene genade. Dit beteken dat die kerk nie net vir homself heilsaam is nie, maar ook diegene wat buite die kerk is, geniet sy vrugte en word deur die invloed van die kerk geseën.
Hierdie seën vind onder andere gestalte in die arbeid waar die Christelike etiek 'n al hoe groter rol speel. Ook op die gebied van arbeidswetgewing en reëlings word na die Bybel vir riglyne gekyk. Volgens berigte uit Suid-Korea is 52 % van die soldate Christene en word hulle as die beste soldate beskou.
Die geseënde invloed van die kerk word ook in beter volkereverhoudings gesien en die kerkgeskiedenis leer vir ons dat die Christene ook beter landsburgers was as die heidene. Die strewe om die moraliteit op hoë peil te handhaaf is ook die vrug van die skynende lig van die lamp op die staander.
Maar die lamp moet brandende bly. Die olie moet aangevul word (vgl. die gelykenis oor die wyse en dwase maagde). Die kerk moet gedurig weer toegerus word. Dis ook die boodskap van die beeld wat die Here Jesus hier gebruik het.
Die Heilige Gees maak van die genademiddels Woord en Sakramente gebruik om die kerk toe te rus vir sy roeping in hierdie wêreld. My plig as Christen is om my voortdurend onder die bediening van Woord en Sakrament te stel, sodat ons toewyding kan toeneem, meerdere betrokkenheid en offervaardigheid gekweek kan word en die kerklike masjien geolie kan word vir beter funksionering van die kerk in die wêreld. Dit is duidelik dat God vir die hele wêreld deur die kerk, die Christen, wil seën en vir die hele wêreld heil wil bring.
Die kerk as liggaam van Christus sal gehaat word, sal teengestaan en vervolg word. So het die Here Jesus sy volgelinge reeds 2 000 jaar gelede gewaarsku. Maar dit moet ons des te meer laat volhard, ons meer toegewyd maak. Dit sal die kerk se geloofwaardigheid bo alles laat blyk.
Christus het ons belowe om tot die einde ons te vergesel en het belowe dat die poorte van die hel ons nie sal oorweldig nie. Die kerk is op 'n oorlogspad, maar dit is 'n wenpad. Laat dit ons troos en bemoedig.
Amen
D. N.J. Hanekom, Harmonie, Pretoria