Opb 22 Kerkbode 1981
KOM - DIE MOOISTE WOORD
LEES: Openbaring 22:
TEKS: Openbaring 22:17; "En die Gees en die bruid sê: Kom". En laat hom wat dors het kom, en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet."
SING: Ges: 217: 1, 3; 225: 1, 2; 236: 1, 3.
BOODSKAP
VIR 'n jongmens is daar baie mooi woorde: "intervarsity", "vakansie", "verloof", "getroud". Maar daar is geen mooier woord as "kom" nie. Die woordjie "kom" is mooier as die mooiste woord wanneer dit uit die mond van die Heilige Gees en die bruid die kerk van Christus afkomstig is. Dis soeter as die soetste klank. Dit is 'n liefdesroepstem van die Gees van Christus. Dit is die Evangelieboodskap wat in een woord saamgevat is - "Kom!" Aan die een kant 'n verlange na die koms van Christus op die wolke, maar ook 'n begeerte dat diegene wat nog nie hulle lewensdors geles het nie, moet kom.
1. Waarvoor moet ek kom? Die water van die Lewe.
2. God se metode om dit aan ons te gee: Hoe moet ek kom?
2.1. Met gewilligheid
2.2. Deur die daad by die woord voeg
2.3. neem dit verniet.
1. Waarvoor moet ek kom?
"Water van die Lewe." Die mens is soos 'n woestyn terwyl sy eie waterbottel van geregtigheid lankal opgeraak het, hy is hulpeloos op pad om te sterwe. In hom is 'n ontsettende DORS, 'n verlange wat hy nie kan bevredig nie, wat die wêreld nie kan bevredig nie.
Mense probeer op verskillende maniere om die dors te les. Sommige strewe na roem op die sportveld, of eer, die kalklig, populariteit, skoonheid...
'n Bekende filmster het ineengestort en gesê: "Ek het geld, skoonheid, bekoring, populariteit. Ek behoort die gelukkigste vrou in die wêreld te wees, maar ek is bitter ongelukkig."
Marilyn Monroe, toonbeeld van roem en skoonheid, het selfmoord gepleeg. 'n Texas miljoenêr: "Ek het gedink geld kan geluk koop. Ek was totaal ontnugter."
Ralph Burton, een van die uitstaande spotprenttekenaars van die VSA, het selfmoord gepleeg en aan sy kussing was die volgende nota vasgesteek: "Ek het maar 'n paar probleme gehad, baie vriende, groot suksesse. Ek het van die een vrou na die ander gegaan; van die een huis na die ander getrek; ek het die groot lande van die wêreld besoek, maar ek is siek en sat daarvan om nuttelose planne te beraam om elke 24 uur van die dag vol te maak."
Is u nie ook dalk maar besig om u dors deur nuttelose pogings te les nie?
Onsuksesvolle pogings wat u uiteindelik ontnugter laat?
Robert Burns, die grootste Skotse digter (1759-1796), het gesê: "Die lewe is soos 'n papawer - jy gryp na die blom en jy hou net die stingel oor."
Pascal het gesê: "Daar is 'n Godgeskape vakuum in die hart van elke mens wat nie vervul kan word met enigiets in hierdie wêreld nie, maar slegs deur die Skepper wat Homself aan ons bekend maak deur Jesus Christus."
Hierdie water van die Lewe is Jesus Christus. Sonder Hom sterf 'n mens doelloos, word jy vernietig deur die dors. Die bestaan van die natuurlike mens word gekenmerk deur die dood, onsekerheid, skuldgevoelens, lyding, pyn, straf en vrees.
In die plek daarvan gee die water lewe. Dit bied ware vrede, vreugde, rus vir 'n skuldige gewete en sekerheid deur Jesus Christus.
Volgens Joh. 4 is dit standhoudende water dwarsdeur die kwaaiste droogte; 'n magtige bron wat opspring. Slegs Jesus voorsien in hierdie geweldige dors.
2. Hoe verkry 'n mens dit?
Dit is maklik om te sê dit is die mooiste woord, maar HOE verkry 'n mens dit? Daar is 'n paar dinge wat belangrik is.
2.1. Gewilligheid
"Laat hom wat wil die water van die lewe neem, verniet." 'n Student kom by 'n Evangelis en die volgende gesprek vind plaas:
Student: Ek kan nie Christus aanvaar nie, want ek het 'n intellektuele probleem met die Christendom.
Evangelis: Waarom nie?
Student: Omdat die Nuwe Testament onbetroubaar is.
Evangelis: As ek aan jou sal toon dat die Nuwe Testament een van die betroubaarste dokumente van die ou literatuur en geskiedenis is, sal jy dan glo?
Student: Nee
Evangelis: Maar jy het dan nie 'n probleem met jou verstand nie, maar met jou wil.
Baie persone wat besware koester van teenstrydighede in die soek net 'n verskoning vir hul onwilligheid en probeer agter die besware te skuil. Die werklike oorsaak is dat hul nie bereid is om af te sien van sondes in hulle lewe nie.
Let wel: Hier staan nie "Laat hom wat verstaan die water van die lewe neem nie," maar laat hom wat gewillig is ..."
'n Baie slim gegradueerde man wie se vrou tot bekering gekom het, het die probleem gehad dat hy nie geweet het hoe om te glo nie. Nadat aan hom verduidelik is dat God net gewilligheid vra, dat hy net moet sê: "Here, ek is gewillig". Toe hy dit gedoen en daar het vrede in sy hart gekom, die wonderlike water van die lewe het deur sy lewe gespoel.
2.2 Om die daad by die Woord te voeg
"Laat hom kom ..."
Reageer op die uitnodiging, aanvaar dit. Geen getuigskrif of aanbevelingsbrief is nodig nie. Dit maak nie saak wie u is nie. Dit maak nie saak of u talentvol of 'n gemiddelde persoon is nie; of u in 'n godsdienstige huis grootgeword het en of nooit u ouers sien bid het nie; hoe groot of klein u sondes is nie, al wat u moet doen is slegs om te kom. Moenie toelaat dat u oor u verskonings struikel nie.
U hoef nie eers iets te voel of te ervaar nie; te worstel of te stry nie; of eers iets reg te maak nie; of te wag op 'n teken nie; of vir God 'n belofte te maak nie. U moet slegs KOM! In 1 Joh. 6:37 vind u die versekering: "Ek sal hom wat na My toe kom nooit uitwerp nie." In Matt. 11:28: "Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee."
Jesus is die LEWE. Moenie slegs daaroor dink nie; daarna verlang nie; daaroor bid nie - neem nou 'n besluit en KOM na Hom toe.
In Jes. 1:18: sê die Here "Kom nou en laat ons die saak uitmaak," sê die Here. "Al, was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol."
Wanneer Gawie en Susan verloof raak, dan rig hy die selfde soort uitnodiging: "Kom, ek hou van jou word my vriendin." Sy hoor met haar ore; dink daaroor met haar verstand; besluit daaroor met haar hart; antwoord met haar wil deur met haar mond "JA" te sê.
Jesus rig dieselfde uitnodiging tot u: "KOM" "Sien my kom o, Heer, kom tot aan U sy was my met U dierbaar bloed, U bloed gestort vir my."
2.3 Neem verniet
Al die goud in die Reserwe Bank; al die diamante van die Kimberley myne; al die rykdomme van die Oppenheimer's kan nie betaal vir die water van die lewe nie. Dit is onkoopbaar duur; onbetaalbaar duur.
Jes. 55:1: "Almal wat dors het kom na die waters; en wie geen geld het nie kom koop en eet; ja kom koop sonder geld en sonder prys; wyn en melk."
U en ek kan nie hierdie water van die lewe bekostig nie en daarom het Christus die prys aan die kruis van Golgota betaal. Al wat nodig is, is u gewilligheid om te kom en om te neem.
Die mooiste woord, "KOM" verander na die dood in die bitterste woord gevul met verwyte. Ag, as ek maar geluister het! As ek maar net gekom het toe die uitnodiging so dringend was. Die woord "kom" word drie keer in hierdie vers herhaal. Asof God die Heilige Gees en die kerk van Christus die bruid nie sterk genoeg op die laaste bladsy van die Bybel kan aandring by die dorstiges om die geleentheid van alle geleenthede aan te gryp nie! Het u al "gekom"?