Rom 8=28 Kerkbode 1981
Ons geloofsekerheid is geanker in God se liefde
ROM. 8:28: "En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep
BOODSKAP
AS dit met hulle wat God liefhet goed gaan, moet besef word dat die teendeel eweneens waar is en dat vir hulle wat God nie liefhet nie alles ten kwade meewerk. Daarom, al sou hierdie lewe daarvan blyke gee dat dit met die onregverdige goed gaan sodat die oë van vettigheid uitpeul, sal dit eendag in die ewigheid anders wees. Om die rede moet hierdie teks teen die agtergrond van die ewigheid begryp word.
Wanneer Paulus verklaar "ons weet" is dit nie 'n noodsprong sonder om te weet waar jy gaan land nie, maar word die vlug van jou lewe die toevlug tot God. Gelowiges kan dit allermins bekostig om in onsekerheid te lewe. As die gelowige begin twyfel, wat dan van die wêreldling? En van al die tye waarin die kerk van Christus hom in die stryd bevind het, kan die gelowige dit veral nie nou bekostig om die arms slap te laat hang nie.
Die rede vir soveel geesteskwale moet gevind word in die gebrek aan 'n vaste geloof. Omdat die mens nie meer met God rekening hou nie, het hy ankerloos geword. Daarom moet daar te midde van al die verwarring hierdie een oproep uitgaan, naamlik: terug na God in die diepte van die gebed. As geloofsekerheid ontbreek, moet die rede gesoek word in die feit dat die een groot vertroue dat niks ons van die liefde van God sal kan skei nie, ontbreek.
1. Die Sekerheid in hierdie Geloofswete
Paulus roem in die onwrikbare sekerheid wat daar vir die gelowige in Christus Jesus opgesluit lê. As hy dan sê "ons weet", is dit nie slegs 'n wete met die verstand nie, maar dit spreek van 'n geloofsekerheid wat gedra word deur die persoonlike ondervinding van die werking van die Heilige Gees. Daarom kan en mag hy nie twyfel nie.
Dit mag vandag lyk asof alle feite die ewige hoop weerspreek. Al die sigbare dinge en veral die haat van 'n vyandige wêreld lyk in stryd met die sekerheid waarin die gelowige roem.
Tog weet ons dat al hierdie vyandige magte niks teen die hand van die Here kan vermag nie. God laat alles ten goede meewerk. Daarom moet die gelowige weet dat God selfs die vyandige magte ten goede laat werk.
Hierdie vergesig oor Gods heilsplan met die wêreld hou miskien vir ons die gevaar in dat ons slegs toeskouers gaan wees wat alles net wil geniet en self nie aan die hervormingstryd wil deelneem nie. Aan die ander kant bestaan die gevaar dat ons op die vlakte van stryd en beproewing moedeloos word.
Wat die gelowige wel moet onthou, is dat die Here ons nie op 'n storm vrye seereis uitstuur nie. Wat Hy wel beloof, is 'n veilige hawe na die stryd. Hieraan moet ons onwrikbaar vashou. Wanneer die stryd en beproewing oor ons toesak, put ons moed uit die wete dat ons die ander kant veilig sal bereik.
Soms lyk die lewe soos 'n onvoltooide legkaart met onoplosbare raaisels. Maar dan antwoord Paulus daarop: "Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie".
Dit is egter so dat die ware geloof nie altyd 'n klinkklare antwoord op elke "waarom" het nie. Tog is die geloof nie 'n goedkoop troos nie.
Oppervlakkig beskou lyk dit na willekeur as Johannes die Doper in die gevangenis onthoof word, of as Lasarus om 'n stukkie brood smeek, Petrus in die gevangenis sit, Jakobus in Jerusalem tereggestel word en Paulus waarskynlik die marteldood gesterf het.
2. Die diepe inhoud van die Wete
Almal wat hulle hoop op die ewige en onsienlike dinge vestig, kan soos Paulus met 'n onwrikbare geloof vashou aan die onveranderlike liefde van God wat Hy in Christus openbaar het. Die sekerheid en krag van hierdie liefde lê nie in ons wat God liefhet nie, maar in God wat ons eerste liefgehad het.
Te midde van 'n lewe vol wisselvalligheid is dit ons enigste anker. Die resultaat is dat hoe meer die beproewings en veelvuldiger die verdrukkinge, hoe intiemer is God se verhouding tot ons.
Hy maak ons dan deelhebbers van alle goeie dinge.
Die diepe inhoud van hierdie heilsekerheid lê in die feit dat God ons geroep het. So beweer Paulus dat die Here ons "vooruit geken het". Die Here ken wel alle mense, maar sy kind ken Hy met 'n ewigheidskennis. So word sy verlossingsplan in sy kind 'n werklikheid.
Wat belangrik is, is dat die mens sal besef dat hy self ook in hierdie verlossingsplan van God met hom 'n eie verantwoordelikheid het.
As Paulus aan die Filippense skrywe om ligdraers in die wêreld te wees, sê hy onder meer "met eerbied en ontsag moet julle voortwerk aan julle verlossing, want dit is God wat in julle werk" (Fil. 2:12). So maak die Here ons gewillig en bekwaam om sy heilige plan uit te voer.
Dat God dikwels met ons lewens teleurgestel is, is onteenseglik waar. Maar nou herinner Hy ons nie gedurig aan die lelike dinge in ons lewe nie. Ondanks ons ontrou, doen Hy 'n beroep op ons eerste liefde. Hy wys ons daarop dat ware veiligheid en rus enkel te vinde is in die belydenis van ons konkrete sondes en so in die terugkeer na die lewende God.
Ons besef nie genoeg dat ons geroepenes van God is nie. As ons sy ware beeld aan die wêreld wil vertoon, moet ons ons as ware gelowiges in die wêreld onderskei. Wie Christus waarlik liefhet, kan nie ook die wêreld wil liefhê nie.
So lê ons geloofsekerheid in die woorde van Paulus: "Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons alles genadiglik skenk nie?" Soos Abraham een maal sy seun Isak nie gespaar het nie, het God ter wille van ons sy Seun tot sonde gemaak. Dit was die grootste offer denkbaar.
Nou hoef ons as sondaars niks meer te doen nie, behalwe om hierdie heilsdaad in die geloof aan te neem. Dieselfde hand wat ons ewige heil bewerk, ontneem ons alle vrees, sodat die gelowige die wêreld uitdaag en vra: "Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God?"
Dat die Christen voortdurend voor die regbank van die wêreld gedaag word, weet ons. Tog is dit eintlik die wêreldling wat voor die Here skuldig staan.
3. Die ewige Hoop in hierdie Sekerheid
As Paulus oor die toekoms van die kerk dink, skryf hy met 'n vaste oortuiging: "Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet ..." Daarom kon hy met oortuiging verklaar: "Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet." (vs. 37)
En deur die eeue was dit steeds waar, want hoe bitterder die haat en vervolging van die kerk, hoe vinniger het die evangelie versprei en hoe vaster het die fondamente van die kerk gestaan. Hoe meer woede uit die hel, hoe meer siele het hulle heil in God gevind.
So oortuig was die apostel daarvan in sy eie lewe dat hy beweer het dat daar vir 'n blye en juigende oorwinnaar geen neerlaag meer moontlik is nie.
As Paulus met oortuiging verklaar dat niks hom van die liefde van God kan beroof nie, noem hy alle denkbare dinge op en stel hy dit dat in die ganse heelal daar geen ding is wat hierdie skeiding kan bewerk nie, want alles is aan die liefdeswil van God onderworpe. Daarom moet die kerk uitgaan en sonder vrees die volle evangelie aan die wêreld proklameer.
Waarom twyfel gelowiges so dikwels? Ons mag nie aan die liefde van God twyfel nie. Tog moet ons weet dat ons nooit sonder stryd sal wees nie. Satan sal alle pogings aanwend om 'n skeiding tussen God en sy kind te bewerk. So sal die magte van die hel saamspan en ons soos slagskape aan die dood oorgee.
In al hierdie dinge kan die gelowige die hoof blymoedig ophef en sê: "En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk". So maak die liefde van God deur die Heilige Gees hulle kruis draaglik.
Maar dit vergroot eweneens ons roeping op aarde. Hierdie wêreld is per slot van rekening nie die plek waar ek my merk moet maak nie, maar waar Christus sy merk moet laat - ook deur my.
Amen
Dr. A. J. Minnaar, De Bloem