So 23

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 11 views
Notes
Transcript

Teksgedeelte:  Job 2: 1-10 en Rm 3: 9-31

Teksvers:  Rm 3 :21

Heidelbergse Kategismus:  Sondag 23

Tema:  Geregverdig in Christus deur die geloof.

Dr AJ Krüger, Barberton

Geliefdes in onse Here Jesus Christus.

Die Heidelbergse Kategismus het ons die afgelope weke gelei om die 12 artikels te ondersoek.

Ons het gekyk na die betekenis van: Ek glo in God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees.  Ons het geleer van die kerk, die laaste oordeel, ens.

Nou word daar ‘n vraag gevra wat byna uit lyn lyk: “Wat baat dit jou dat jy dit alles glo?”

En tog is dit nie sommer so ‘n vragie wat ‘n mens byna ongesiens by mens kan laat verbygaan nie!

Inteendeel, dit dwing ‘n mens om te gaan stilstaan en te gaan vra na die sin van jou lewe en lewenspraktyk.  Want ons belydenis - soos vervat in die 12 artikels - lei tot ‘n spesifieke lewenswyse, gebaseer op spesifieke beginsels.  Daar is dinge wat jy óf doen óf laat.  Wat is nou die voordeel wat jy kry uit hierdie geloof wat jou doene en late bepaal?

Voordeel van die geloof

Job se vrou het die voordeel/bate van die geloof gaan soek in materiële voordeel. Sy het Job se welvaart gesien, en aangeneem:  So word Job beloon vir sy geloof.

Toe hulle wêreld begin verkrummel, loën sy God.   Hy het dan geen waarde meer nie.

Enige een wat God se waarde soek in materiële dinge, loop op ‘n donker afgrond af.  Want dit is ‘n feit dat rampe en teëspoed op ons pad kom.  God beloof in die Bybel net:  geen bomenslike dinge sal op ons pad kom nie (I Kor 10:13).  Rampe en teëspoed kom op ons pad.  Daarom moet jou geloof jou eintlik die hemele help inkyk.  Ja, ‘n geopende hemel met Jesus Christus aan regterhand van die Vader, laat jou die waarde van die geloof besef.  Want die geloof het ewigheidsbetekenis.  Ja, dit help jou in hierdie lewe.  Dit dra jou (in voor -en teëspoed), maar net om een rede: Die geloof verseker jou dat jy voor God geregverdig is, ook wat die ewigheid betref!!

Dié “regverdig” het eintlik ‘n juridiese karakter.  Dit kom uit hoftaal.  Die beeld is die een van die regter wat oordeel moet uitspreek oor aangeklaagde, en in hierdie geval is dit dan: Vrygespreek! Regverdig! Onskuldig!  AL het al die getuienis wat gelewer is daarop gewys dat jy so skuldig is as wat kan wees!

Dit is daarom dat Paulus kan jubel (en ons saam met hom) in Rm: 8.

Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge?  Dit:  God is vir ons wie kan dan teen ons wees?  Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red.  Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? 
Wie kan die uitverkorenes van God aankla?  God self spreek hulle vry.  Wie kan ons veroordeel?  Wie kan ons van die liefde van Christus skei?  Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?  Hiervan is ek oortuig:  geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

God het ons vrygespreek.  Dít is die bate van die geloof.  Ons het die ewige lewe!

Maar as die Heidelbergse Kategismus nou die feit van die vryspraak gestel het, dit genoem het as die bate van die geloof, dan volg daar onmiddellik:  “Hoe?”  Hoe realiseer dié vryspraak?

En hierdie “hoe” is ‘n terugbring aarde toe.  Want kyk net na die taal van die Kategismus:  My gewete kla my aan:

  • Ek het gesondig;
  • teen al die gebooie van God;
  • swaar;
  • nie een gehou nie;
  • Ek is gedurigdeur steeds tot die kwaad geneig.

Dié taal laat dit byna voel asof daar nie ‘n moontlikheid bestaan van regverdiging van die mens voor God nie! 

Maar dit is alles net om ons te bring by JESUS CHRISTUS.

Ja, om die soeklig op Hóm te laat val  Die moontlikheid van ‘n eie verdienste van die mens by sy regverdiging word in kiem gesmoor. 

En kyk nou net die teenoorgestelde tipe taal wat van Jesus gebruik word:

  • genoegdoening;
  • geregtigheid;
  • heiligheid;
  • gehoorsaam volbring;
  • nooit sonde gehad.

En dít is hoe ons geregverdig is: Deurdat God Jesus se regverdigheid aan ons skenk. Hy gee vir ons nie wat ons verdien nie, maar wat Jesus verdien.  En God reken Jesus se heiligheid aan ons toe.

Wat is die bate van die geloof?

  • Geregverdig asof ek self soos Jesus dit verdien het.
  • Terwyl ek niks daarvan verdien nie. 

Vrygespreek!

Daar is mense wat dink – hoekom weet ‘n mens nie, want dit het geen Bybelse grond daarvoor nie – dat alle mense uiteindelik tog ewige lewe sal beërwe.

Asof God se liefde maak dat niemand die hel sal sien nie. Niks is verder van die waarheid nie! Daarom lê hierdie Sondag twee keer die klem: 

  • “...vir sover ek hierdie weldaad met ‘n gelowige hart aanneem” en 
  • “...slegs deur die geloof aanneem en my eie maak...”

Dit beteken:  Regverdiging word voorafgegaan deur wedergeboorte en bekering.

Wedergeboorte is God se vrye daad van genade waarin Hy deur die Heilige Gees lewe wek in dooie harte.  Bekering is die wedergeborene se verantwoordelikheid.  Sy reaksie op die wedergeboorte.  Dit is wat ons bely by belydenisaflegging, naamlik dat ek glo. 

  • Dat ek weet Jesus Christus het nie net vir ander nie, maar ook vir my gesterf.
  • Dat my geloof die net kennis is nie, maar ook ‘n vaste vertroue.
  • Dat my geloof voete kry.

Omdat bekering voorafgegaan word deur wedergeboorte kan die bekering of geloof nooit ons verdienste wees nie  Ons bekering bring nie vryspraak nie, maar is die gevolg van die wedergeboorte, en daarom is ons vrygespreek.  Omdat ons deur God wederbaar is, en gevolglik glo!

Onthou: Wedergeboorte en bekering  is soos twee kante van ‘n muntstuk. Daarom kan bekering nie sonder wedergeboorte plaasvind nie, en ook wedergeboorte nie sonder bekering nie.  ‘n Christen is wedergebore, ‘n Christen is bekeer tot God.  En leef dan uit God se versekering:  Jy is vrygespreek, geregverdig.

Geliefdes,

Die bate van die geloof is nie in geld te mete nie, maar in vrede.  Die sielevrede van hom wat die versoeningswoord hoor:  “Jou sondes is vergewe,  jy is regverdig verklaar deur God self!”

Amen.

Related Media
See more
Related Sermons
See more