WANT SO LIEF HET GOD DIE WÊRELD GEHAD

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 59 views
Notes
Transcript
Mattheus 21: 33-46 (Die BOODSKAP)
Die ryk boer, sy wingerd en die huurlinge
33“Maar dit is nie al nie,” sê Jesus. “Luister ’n bietjie na hierdie verhaal: daar was ’n ryk boer wat ’n wingerd aangeplant het met alles wat nodig was. Rondom die wingerd het hy ’n stewige draad gespan. Hy het ook ’n plek reggemaak waar hy wyn kon maak.
Die boer moes op ’n lang reis gaan en hy verhuur toe die wingerd aan ander boere. Hy het met hulle ooreengekom om vir hom van die druiwe as huur vir die grond te betaal.
34Toe die druiwe begin ryp word, stuur die eienaar van sy werkers na die wingerd toe om sy druiwe te kry. 35In plaas van druiwe het hierdie werkers ’n onaangename verrassing gekry.
Een is deur die boere aangerand. Gelukkig het hy nog bly leef, want ’n ander een is doodgemaak. Die boere het nog een onder die klippe gesteek, maar hy het darem weggekom.
36“Toe stuur die eienaar ’n hele klomp van sy werkers. Met hulle het dit egter nie beter gegaan nie. Hulle is net so sleg behandel.
37“Uiteindelik besluit hy om sy seun te stuur. Hy het geredeneer dat hulle niks aan sy seun sou doen nie. Vir sy seun behoort hulle mos net soveel respek te hê as vir hom. Hulle sal hom sekerlik goed behandel. 38Maar dit het nie so gebeur nie.
Toe die boere die seun sien aankom, sit hulle koppe bymekaar. ‘Weet julle,’ sê hulle vir mekaar, ‘daardie seun gaan eendag hierdie grond erf. Dis nou ons kans. As ons hom nou doodmaak, sal ons mos later self die grond in die hande kan kry.
Wanneer die eienaar eendag doodgaan, sal daar niemand meer oor wees om hier te boer nie.’ 39Voor die seun mooi weet wat aangaan, pak almal hom en sleep hom die veld in. Daar het hulle hom doodgemaak.”
40Jesus vra toe die klomp Joodse godsdienstiges: “Wat dink julle gaan die eienaar met die spul boere doen wanneer hy terugkom?”
41Die godsdienstiges was gou om te antwoord: “Ons dink die hel gaan om daardie boere losbrand. Daardie wingerd gaan nooit hulle s’n word nie, want die eienaar gaan hulle op die verskriklikste manier denkbaar straf. Hy sal dan die wingerd aan ander boere verhuur wat hulle huur op die regte tyd sal betaal.”
42Toe sê Jesus vir hulle: “Reg, maar moet Ek julle herinner aan wat daar in die Joodse Bybel staan?
‘’n Klip wat die bouers nie eens wou gebruik nie en eenkant toe gegooi het, het God reg bokant die voordeur ingebou vir almal om te sien!’
43“Nou wil Ek by julle kom. Julle gaan julle plekke by God verloor. Om die waarheid te sê, God gaan julle soos die eerste boere uit sy nuwe wêreld gooi. Soos die tweede groep boere die eerste boere se plek gekry het, so sal God julle plekke dan aan mense gee wat doen wat Hy van hulle vra.
44“Oppas! Wie op hierdie Klip val, gaan bitter seerkry. Maar op wie die Klip val, van hom gaan niks oorbly nie.”
45Die groep Joodse godsdienstige leiers het die skimp verstaan en hulle kon dit nie verwerk nie. 46Daarom wou hulle Jesus sommer daar en dan in die tronk stop. Die gewone mense was egter oortuig dat Jesus regtig die Boodskapper van God is. Daarom kon die leiers op daardie tydstip niks aan Jesus doen nie.
Hebreërs 1:1–5 (AFRIKAAN)
1 In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete,
2 maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak.
3 Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.
4 Hy is net so verhewe bo die engele as wat die Naam wat God Hom gegee het, voortrefliker is as hulle naam.
5 Immers, aan wie van die engele het God ooit gesê: “Jy is my Seun, van vandag af is Ek jou Vader,” en ook: “Ek sal sy Vader wees, en Hy sal my Seun wees” ?
Filippense 2:6–11 (Die Lewende Bybel)
6 Al was Hy ook God, het Hy nie gedink dat sy Goddelike status iets was waaraan Hy ten alle koste moes vasklou nie.
7 Hy het self sy Goddelike eer prysgegee en ’n slawelewe aanvaar toe Hy ’n mens geword het. Hy was werklik ’n mens soos ander mense
8 maar Hy het Homself nog verder verneder. Hy was aan God gehoorsaam selfs al het dit beteken dat Hy soos ’n misdadiger op ’n kruis doodgemaak is.
9 Dit is daarom dat God Hom die hoogste eer en ’n naam gegee het wat belangriker as enige ander is.
10 Almal wat in die hemel is en op die aarde en in die doderyk sal voor Jesus die knie moet buig om Hom te aanbid,
11 en almal sal moet erken dat Hy die Here is. Daardeur sal hulle God die Vader ook eer.
Johannes 3:16 (Afrikaanse Ou Vertaling)
16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
In 1973 het Billy Graham suid Afrika besoek op die Wanderers krieket veld.
Daar was duisend mense die dag.
Ons was as Teologiese Studente opgelei om as Altaar werkers op te tree.
Ek het as finale jaar student verwag hy sou met ons praat oor iets wat uit `n ander wêreld sou wees. Toe lees hy Johannes 3:16 en hy begin deur te sê “almal van julle ken die teks. Regtig?
Hy gebruik toe ‘n eenvoudige voorbeeld van ‘n ketting wat gebreek is en ‘n skakel kortkom.
Hoe mense die skakel probeer opvul het met diere offers, priesters en self konings. Niks kons die gebreekte skakel heelmaak of vervang nie.
Toe kom God en plaas `n kruis daarin. Hy gee sy seun. En die ketting is weer heel.
Mense probeer steeds enigiets in die gebreekte skakel inbou. Gaan kyk maar na die godsdienste van die wêreld.
Net Jesus kan jou verhouding met God herstel. Hy het vir ons versoening gebring met God ons Vader.
2 Korintiërs 5:17–20 (Afrikaanse Ou Vertaling)
17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.
18 En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het,
19 naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou.
20 Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.
Amen.
Related Media
See more
Related Sermons
See more