DIE KONINKRYK VAN GOD HET NABY GEKOM

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 111 views
Notes
Transcript
Markus 1:15 1:15 (Afrikaanse Ou Vertaling)
15 ..... Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie.
Die Boodskap
“Die tyd is nou ryp,” het Hy gesê. “Die nuwe wêreld van God is aan die kom. Almal sal God as die groot Heerser moet erken. Ruk julle reg en draai terug na God toe. Luister na die goeie nuus en maak dit julle eie.”
Baie mense wil hê dat ons moet terugkeer na normaal toe. Die vraag is wat is normaal? Is normaal ‘n Bybelse beginsel.
Ons weet dat, in die lewe, is die “normaal” gewoonlik teen God se Woord. Dit sê: Kom ons behou die Status quo. Kom ons bly by dit wat bekend is. Kom ons word gemaklik en sit terug.
Maar die evangelie is ‘n godsdiens gerig op die toekoms. ‘n Godsdiens van Geloof Hoop en Liefde. God se koninkryk. Waar Jesus regeer en beheer het. “ʼn Nuwe Koning met ‘n nuwe stel reëls. ‘n Nuwe Ryk.
Hierdie koninkryk is vir hier nou, vandag. Toe Jesus die wêreld betree het, het hierdie nuwe Ryk aangebreek. Die mens wat niks het om op te hoop nie, het ook niks om voor te wag nie. En as jy hoopvol wag, sê Jesus, is die wagtyd verby. Want die tyd het gekom.
God wil jou uitdaag om daarvan deel te wees. Maar daar is ‘n voorwaarde aan verbonde. Bekeer julle.
Smit, J., 1996. Sê in sy boek: Trefferwoorde van Jesus: woorde wat jou lewe kan verander. Die volgende:
Miskien wil Jesus sê dat hulle by die verkeerde deur sit en wag. Of die verkeerde vlug wil haal. Of die pos met ’n foutiewe verwagting dophou. Bekering is ’n ding wat hart en hande raak. Dit raak heel eerste jou manier van dink voordat dit jou manier van doen raak. Daar is mense wat oënskynlik van doen verander en dan juig almal dat hulle tot bekering gekom het. Maar omdat hulle manier van dink nie verander nie, is hulle hande kort voor lank weer besig om hulle hartewense uit te voer.[1]
Maar jy sê ek het tot bekering gekom en dan gee jy ‘n datum. Mooi so. Eintlik is dit ‘n gebeurtenis elke oomblik van die dag. Bekering beteken dat jy van koers of rigting moet verander. Daar is nooit ‘n terugkeer na normaal toe nie. Normaal is ‘n gevaarlike plek in jou reis saam met hierdie Koning.
Maar hoe? Jesus sê Glo die Evangelie. Die Goeie nuus. Die Blye Boodskap. Hierdie Goeie Nuus is saamgevat in die Persoon van Jesus Christus. Die koninkryk van God is naby. So naby soos Jesus.
Ek gebruik die gebed wat voorkom in die boek van Smit.
Liewe Heer, Ek is ook ’n mens wat wag… My oog is dag vir dag op die toekoms gerig met die hoop dat môre en oormôre en al die dae wat kom miskien die antwoorde sal bring op my vrae, behoeftes, verlangens, drome. My lewe is honger vir evangelie, goeie tyding— die tyding van lewe en hoop en vervulling. Ek dank U dat die koninkryk van God reeds vir my gekom het; dat ek nie hoef te wag op die Messias nie; dat ek vir Jesus, die deur na die lewe, gevind het. Nou kom lê ek al my ander verwagtinge aan U voor, en ek glo dat u goeie tyding elke hoek en kant van my lewe sal binnedring. En waar ek nog tot bekering moet kom— ’n ander koers moet inslaan, ’n verkeerde verwagting moet prysgee, of sommer net moet leer wat dit beteken om dag vir dag op die Here te wag— help my dan op die regte pad om u Naam ontwil. Amen[2]
[1] Smit, J., 1996. Trefferwoorde van Jesus: woorde wat jou lewe kan verander, Kaapstad: Struik Christelike Boeke.
[2] Smit, J., 1996. Trefferwoorde van Jesus: woorde wat jou lewe kan verander, Kaapstad: Struik Christelike Boeke.
Related Media
See more
Related Sermons
See more