Pinkster in die Ou Testament

Pinkster 2020  •  Sermon  •  Submitted   •  Presented   •  22:56
0 ratings
· 155 views

Pinkster in die Ou Testament

Files
Notes
Transcript

Daar is twee groot feeste in die jaar wat ons as Chrístene in besonder vier. Die eerste is Paasfees waar ons die kruisiging en opstanding van Jesus vier. Die tweede groot fees is Pinksterfees. Normaalweg is dit die tyd waar ons dink en praat oor die uitstorting van die Heilige Gees.

Ek wil hierdie jaar die Pinkster reeks ’n bietjie anders begin. Ons bevind onsself in ’n baie ongewone situasie in die sin dat ons nog nooit vantevore verbied is om saam te mag kom om hierdie feeste te vier nie. Maar in lande waar die Christelike geloof verban is, moes Christene al dekades lank hierdie situasie in die gesig staar. Dit het nie hulle geloof en liefde vir God laat kwyn nie, inteendeel, dit het hulle geloof en liefde vir God groter en sterker gemaak ten spyte van die uitdagings wat hulle gehad het.

Hier aan die begin van lockdown het ek ’n boodskap gebring met die titel “Niks is toevallig nie”. Jesus is nie toevallig op Paasfees gekruisig nie en die Heilige Gees is nie toevallig op Pinksterdag uitgestort nie. As ’n mens net na die tydsverloop van hierdie feeste kyk, dan sien jy God se intense betrokkenheid in die tydsberekening van hierdie gebeure. Die Jode het die eerste Paasfees en die eerste Pinksterfees om en by (naastenby) ’n 1500 jaar voor Christus gevier. Daar was ’n vooraf beplande doel met hierdie feeste gewees.

Pinkster, of die “Fees van Weke” was een van die drie groot feeste van die Jode en daar was van elke man verwag om na die heiligdom (later Jerusalem waar die tempel was) toe te gaan.

Die Here het vir Moses spesifieke instruksies gegee van hoe hierdie feeste gehou moes word en teen daardie agtergrond wil ek hê dat ons na Pinkster sal kyk. Wanneer ons die bedoeling van die feeste in die Ou Testament verstaan kan ons by die bedoeling en vervulling daarvan in die Nuwe Testament uitkom. Dan kan ons oneself werklikwaar voorberei om Pinkster in 2020 in te ets in ons lewens as ’n fenomenale, lewensveranderende gebeure.

Kom ons blaai na Levitikus 23. Ek lees uit die Nuwe Lewende Vertaling.

15“Vanaf die dag ná die Sabbat, die dag waarop die gerf are opgelig is as ’n offer, moet julle sewe weke aftel. 16Hou aan tel tot die dag ná die sewende Sabbat, dit wil sê, 50 dae later, en bring dan ’n offer van graan wat pas geoes is vir die Here. 17Bring van julle blyplekke af twee brode saam sodat dit as ’n offer in die teenwoordigheid van die Here opgelig kan word. Hierdie brode moet gebak word van drie kilogram meel wat suurdeeg bevat. Dit sal ’n offer vir die Here wees uit die eerste opbrengs van julle oes. 18Saam met die brood moet julle ook sewe jaaroud lammers sonder enige liggaamsgebrek, een bul en twee ramme as brandoffers vir die Here bring. Hierdie brandoffers saam met die graanoffers en die drankoffers sal as ’n vuuroffer vir die Here gebring word en sal aangenaam vir Hom wees. 19Dan moet julle ook een bokram as ’n sonde-offer en twee jaaroud skaapramme as ’n maaltydoffer bring.

20“Die priester sal hierdie offers in die teenwoordigheid van die Here oplig, saam met die brode wat die eerste opbrengs van julle oes verteenwoordig. Hierdie offers is heilig vir die Here en behoort aan die priesters. 21Daardie selfde dag moet julle ophou met werk en vir ’n heilige byeenkoms vergader. Dit is ’n permanente reël vir julle en moet nagekom word waar julle ook al woon.

22“Wanneer julle julle lande oes, moenie die graan tot teen die kante van die lande afoes nie. Moet ook nie alles optel wat die mense wat oes, laat val het nie. Los dit vir die armes en vir die vreemdelinge wat tussen julle woon. Ek, die Here, is julle God.” Lev 23:15-22 (NLV)

Blaai nou na Deuteronomium 16.

9“Tel sewe weke af vandat jy met die graanoes begin het. 10Vier dan die Fees van die Weke om die Here jou God te eer. Bring ’n vrywillige offer aan Hom in verhouding met die seën wat jy ontvang het. 11Dit is ’n tyd om vrolik te wees in die teenwoordigheid van die Here jou God op die plek wat Hy sal kies waar sy Naam geëer sal word. Vier die fees saam met jou hele gesin, al jou slawe, die Leviete uit die dorpe, die vreemdelinge, weeskinders en weduwees wat by jou is. 12Onthou dat jy ’n slaaf was in Egipte. Wees daarom versigtig om al die gebooie te gehoorsaam.”

16“Elkeen in Israel moet elke jaar hierdie drie feeste vier: Paasfees, Fees van die Weke en die Huttefees. Elke man moet voor die Here jou God kom verskyn en elkeen moet ’n gawe vir die Here bring op die plek wat Hy sal kies. 17Elkeen moet na sy vermoë gee ooreenkomstig die seën wat hy van die Here jou God ontvang het.” Deut 16:9-12, 16-17 (NLV)

Wat neem ons waar uit hierdie gedeeltes?

• Dit was ’n feesdag en bedoel om vrolik te wees.

• Die hele samelewing moes dit vier.

• As die hele gesin nie daar kon wees nie was die manne verantwoordelik om na ’n spesifieke plek van aanbidding heen te gaan om n dankoffer gawe vir die Here te bring.

• Die vrywillige offer het gekom uit die eerste deel van die oes.

• Niemand mag enige werk gedoen het nie. Dit was ’n dag wat aan die Here toegewy was bo-en-behalwe die voorafgaande Sabbatdag.

• Hulle moes ’n offer vir hulle sonde bring en ook onthou dat hulle as slawe uit Egipteland bevry is.

• Hulle moes daaraan dink om vrygewig te wees en nie die hele oes vir hulleself te hou nie.

Wat is die toepassing daarvan in ons lewens?

As niks toevallig gebeur nie moet ’n mens jouself afvra “Hoekom op die 50ste dag? Hoekom daardie tyd van die jaar? Hoekom twee brode en hoekom mét suurdeeg? Hoekom op ’n spesifieke plek waar almal bymekaar is?”

Die Bybel gee nie vir ons direkte antwoorde op hierdie vrae nie en Prediker sê vir ons dat ons nie God se werke van begin tot einde sal verstaan nie. Ons sal deur die loop van die reeks na van hierdie vrae kyk. Maar baie keer gebeur dit dat wanneer jy tyd saam met iemand deurbring, dan begin jy later daardie persoon se hart verstaan.

God was nie geïnteresseerd in die Jode se “offers” nie, Hy was geïnteresseerd gewees in hulle harte. Dit het gegaan oor wat daardie offers vir hulle beteken in hulle verhouding met Hom. Kon hulle raaksien en bly wees daaroor, dat Hý die een was wat vir hulle die oeste voorsien? Die Here praat deur die profeet Jeremia met Sy volk oor hulle harte wat nie meer lojaal teenoor Hom is nie; “24Dit kom nooit by julle op nie om te sê: ‘Kom ons aanbid (vrees - OAV) die Here ons God wat vir ons reën gee op die regte tyd. Hy gee die herfsreëns en die lentereëns sodat ons goeie oeste het.’ 25Julle boosheid het al dié goeie dinge verhoed. Dit is julle sonde wat julle van voorspoed beroof.” Jer. 5:24-25 (NLV). Pinksterfees, of die Fees van Weke, moes God se mense se harte verander het.

Hoe lyk jou hart vandag? Is jý nog lojaal teenoor die Here? Sien jy Hóm nog raak as die een wat vir jou voorsien en is jy bereid om die eerste deel van jóú “oes”, jou inkomste vir Hom te gee met blydskap as ’n vrywillige offer? Is jy bereid om twee dae na mekaar opsy te sit en geen werk te doen nie, en jouself en jou gesin te vat na ’n plek van aanbidding sodat julle vrolik en opgewonde voor God kan wees met dankbaarheid oor wat Hý vir julle gee? Roer dit nog jou hart dat die Here jou ewige lewe gegee het en vrygemaak het van die strik van die duiwel, die sonde, wat jou ewige dood en smart sou veroorsaak het? Dink jy daaraan om jou plaaswerkers, jou huishulp, jou tuinwerker, jou buurman wat nie kerk toe gaan nie, die enkelouer gesin en die man of vrou wat nie ’n werk het nie saam te nooi na ’n Pinksterdiens toe, en vra jy jouself af “Het ek alles gedoen wat die Here van my verwag?” As jy jou bonus kry, sit jy iets opsy vir die armes en die vreemdelinge tussen jou omdat jy weet dat die Here jóú God en voorsiener is, of oes jy tot teen die kant van jou lande?

Pinkster is nie ’n “topic oor die Heilige Gees” saak waar ons kennis moet opdoen nie. Pinkster is ’n “hart” saak, ’n “bly wees” saak, ’n “omgee” saak, ’n “verhouding” saak.

Sal jy toelaat dat die Heilige Gees solank begin om jou hart voor te berei vir Pinkster?

Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar wag op die belofte van die Vader – Handeling 1:4

Related Media
See more
Related Sermons
See more