Wie moes in Jerusalem wag?

Pinkster 2020  •  Sermon  •  Submitted   •  Presented   •  19:27
0 ratings
· 60 views
Files
Notes
Transcript
Pinkster Reeks 2020 Wie moes in Jerusalem wag? Wat sal jy sê as ek vir jou sê dat ek vir ’n feit weet dat Bitcoin se prys oor ’n minuut met 500% gaan styg. Wel, as jy Bitcoins het gaan jy in ekstase wees maar, as jy NIE Bitcoins het nie gaan jy net kan wens dat jy dit gehad het. Maar wat nou as ek vir ou sê ek weet hoe jy Bitcoins teen die ou prys kan kry. Sal jy geïnteresseerd wees? Dis amper hoe die Pinkster verhaal hom afgespeel het. Jesus het vir ’n eksklusiewe groepie mense gesê dat iets van groot waarde gaan gebeur en dit het. Onthou jy ek het Sondag gesê dat almal wat kon Jerusalem toe moes gaan vir Pinkster (Fees van Weke) en as die hele gesin nie kon gaan nie dan moes die manne gegaan het. Ons het ook gesien dat dit ’n tyd van groot blydskap, dankbaarheid en geloof moes wees. Net ’n bietjie perspektief; Israel is 20,770 km2 (naastenby so groot soos die Kruger Wildtuin 19,485 km2) Ek het die vraag gevra “Hoekom moes die Heilige Gees op Pinksterdag uitgestort word?” Wel, nou weet ons hoekom. Dit was die tyd waar die meeste hoeveelheid Joode (nie alleen vanuit Israel nie, maar ook die hele wêreld) in Israel sou wees en ook ontvanklik sou wees vir die voordeel van wat die evangelie vir hulle sou inhou (vgl. Hand 2:5, 11). Dit was God se briljante plan om die evangelie die wêreld in te stuur. Maar God gebruik mense, Jesus se liggaam, om die werk te doen. Het jy al ooit gehoor van “Multi Level Marketing”? Dit is wanneer mense deel word van ’n maatskappy en dan daardie maatskappy se produkte op hulle eie onkoste bemark en dan deel in die maatskappy se winste. Pinkster was God se manier om mense te bekwaam (hulle as bemarkers aan te stel), sodat hulle hulle storie, van wat God in hulle gedoen het (die produk is God se liefde en goedheid), kon vertel (bemark) en mense dan kon vra “Wat moet ons doen broeders?” (ek soek jou produk). Sien, die Here kon nie die Heilige Gees op net enige iemand uitstort nie. Die Heilige Gees was op 120 dissipels uitgestort, manne en vroue wat in Jesus geglo het as die verlosser. Hulle was al reeds gelowig gewees. Hulle het al reeds die Gees in hulle gehad maar die Heilige Gees moes hulle “bekwaam” maak en toerus met krag, net soos wat Jesus toegerus was met krag om Sy bediening te begin, sodat hulle as dissipels kon voort sit dit wat Jesus op aarde kom doen het. Die mense wat tot bekering gekom het, op grond van die uitstorting van die Heilige Gees op n groepie dissipels, was die “eerstelinge” van die oes van siele wat sou inkom net soos wat die graanoffers van die Fees van Weke die eerstelinge was van die oes wat van die lande af ingekom het (vgl. Hand 1:8). Nou kan ek die vraag vra - Wie moes in Jerusalem wag? Vir wie het Jesus gesê om te wag in Jerusalem vir die belofte van die Vader? Die wat toe reeds aan Hom behoort het. Wie kan vandag wag op die belofte van die Vader? Die wat reeds aan Jesus behoort. Dit was nie op al die Jode wat in Jerusalem was uitgestort nie, al was hulle deel van die Ou Verbond. Die Heilige Gees word ook nie op almal wat aan ’n kerk behoort uitgestort nie, maar net op die wat wedergebore is. Hulle wat deel is van die Nuwe Verbond in Jesus Christus. Kan jy later met die Heilige Gees vervul word. Kan jy later Bitcoin teen die ou prys koop? Verseker. Voldoen aan die vereiste en die belofte is joune. Handelinge 2:37-39 “TOE hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders? En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.” Wat moes hulle doen? Presies dieselfde as wat Johannes die doper gesê het hulle moes doen nl. hulle bekeer. Die woord bekeer beteken “om jou gedagtes te verander en dan op daardie verandering te reageer” Johannes was nie tevrede met spyt en berou nie, maar met “vrugte wat by die bekering pas” (Mt 3:8) Paulus sê dit so “Want die droefheid volgens die wil van God werk ’n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood.” (2 Kor 7:10) Bekering is nie iets wat ek kan teweegbring nie, dit is iets wat God self doen wanneer ek berou het oor my “sondigheid” en Hom dan vra vir vergifnis en ’n veranderde hart, en dan glo dat Hy dit sal doen. Dit is die Heilige Gees alleen wat kan oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel (Joh. 16:8). Is jy reg om te bly wag sodat God jou bekwaam kan maak om ’n bemarker van die evangelie te word? As jy nog nie kwalifiseer vir die belofte nie, kan jy dit vanaand doen. Jy kan vanaand vir God sê... Jesus, ek het my hele lewe lankal gehoor dat U die seun van God is. Dat U gekruisig is en gesterf het vir mense se sondes. Dat U na 3 dae uit die dood opgestaan het en opgevaar het hemel toe. Dat die Heilige Gees nou hier in U plek op aarde is. Ek het al hierdie dinge al gehoor en ek glo dit, maar ek is niks beter daaraan toe nie, want Jakobus sê ook “Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.” (Jak 2:19). Heilige Gees ek vra u nou, kom wys my sonde vir my. Bring U oortuiging in my hart. Ek weet die mensdom het n Verlosser nodig en daarom het ék n Verlosser nodig. Kom verlos my nou van my sonde en maak my nuut. Vergewe my sodat ek vry kan wees. Was my in U bloed dat ek skoon en rein kan wees. Ek glo nou met my hele hart dat U dit nog altyd wou doen maar dat ek eers moes besef dat ek dit ook nodig het en daarvoor moes vra. Ek het nou gevra en in geloof sê ek nou dankie vir wedergeboorte. Dankie, dat ek nou ’n nuwe mens is. Dankie, dat ek nou aan U behoort en dat ek die reg het om ’n kind van God genoem te word. Amen!
Related Media
See more
Related Sermons
See more