Dit wat nooit verander nie

Onveranderlike Waarheid  •  Sermon  •  Submitted   •  Presented   •  36:46
0 ratings
· 186 views

Verandering is onvermydelik maar daar is een ding wat nooit sal verander nie - Jesus Christus. Hy is dieselfde gister, vandag en tot in ewigheid.

Files
Notes
Transcript

As daar nou een ding in die lewe is waarvan jy seker kan wees, is dit dat die lewe altyd besig is om te verander. Vat byvoorbeeld vandag se diens. ’n Week terug het ons gedink ons gaan vandag saam kerk hou en kyk net hoe gou het dit verander. Die middel van Maart was dit nog “business as usual” en binne ’n week het ons lewe radikaal verander. Baie mense het al gesê dat ons nooit weer sal terugkeer na wat ons as “normaal” ken nie.

Enige tipe verandering – positief of negatief kan spanning in jou lewe veroorsaak. Die enigste verskil is dat elkeen van ons veranderinge en die “stress” wat dit bring verskillend hanteer.

In die laaste ruk het, het daar so baie dinge verander dat ons mag wonder, is daar enige iets in die lewe wat onveranderlik of permanent is? Ja, daar is! Hebreërs 13:8 sê, Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. Wow, is dit nie iets wat jou laat voel jy kan uit jou vel uitspring nie? Is dit nie net fantastiese nuus nie?

Terwyl alles in die lewe verander, bly Jesus dieselfde. Alles wat Jesus Christus gister was, dit is Hy vandag. En alles wat Hy vandag is, sal hy môre ook wees. Hy is reeds in die toekoms. God word nie deur tyd beperk nie. Hy is verlede, hede en toekoms. Dit gee ons vertroosting en hoop want ek weet dat ongeag watter verandering ek mag deurgaan, Hy gaan voor my daar wees.

Jy sal nooi hoef bang te wees vir die toekoms as jy die onveranderlike feite omtrent God onthou en daarop fokus nie. Hierdie dinge is onveranderlik en onbeweeglik en kan nie geskud word nie. Die geheim lê hierin; Hoe groot ’n realiteit is Jesus vir jou? Ek en jy kan in presies dieselfde omstandighede wees, maar my realiteit, en jou realiteit, kan wêrelde uitmekaar uit wees. Maar as die waarheid van wie Jesus en God is, in my en jou lewe ’n kernwaarheid is, iets waar rondom ons lewens sentreer, dan het ons ’n toekoms wat standvastig is al val die wêreld rondom ons uitmekaar of al stort dit in duie.

Ek wil vanoggend EEN van daardie onveranderlike feite van God en Jesus noem, en as ek en jy dit kan onthou en daarop fokus gaan hierdie onstabiele, veranderlike wêreld van ons skielik baie meer solied begin voel.

(Ps 46:2-3 - NLV) 2God is ons toevlug en ons krag; in nood is Hy gereed om te help. 3Daarom sal ons nie bang wees nie, al bewe die aarde, al verskuif die berge diep in die see; 4al bruis en skuim die waters, al skud die berge as die waters styg!

(Ps. 46 : 1 – NKJV) God is our refuge and strength, A very present help in trouble.

As jy die Faithlife Study Bible het, (’n Bybel wat jy gratis kan aflaai en wat jy kan gebruik om interaktief deel te neem aan die dienste) dan sal jy sien dat dit aan die begin van Ps. 46 ’n tabel gee met die “Tipes” Psalms wat jy kry. Dit gee ook ’n kommentaar oor sekere van die woorde binne die Psalm. Ek gaan vandag drie van daardie woorde wat bespreek word gebruik om iets van hierdie onveranderlike waarheid omtrent God, met julle te deel. Hopelik sal dit jou interesseer om self ook van hierdie waarhede te ontdek.

Die Psalms was nie net ’n boek in die “Bybel” vir die Jode gewees nie. Dit was grotendeels liedere wat hulle gesing het wanneer hulle in die tempel bymekaargekom het om te aanbid. Jy sal sien dat die Psalm (Ps. 46) eindelik geskryf is vir die musiekleier en dit gee spesifieke instruksies aan die musiekleier van hoe die Psalm aangebied moet word. Inteendeel, 55 van die 150 Psalms begin met “Vir die musiekleier”.

“God is...”, is nie net ’n stelling omtrent God nie, maar dit is ook ’n uitspraak van geloof in God deur die een wat die lied sing. Aan die een kant maak die persoon die verklaring van wie dit is wat in staat is om te help, maar ook in wie of by wie hulle veilig voel. Onthou jy ek het laasweek gesê dat as jy iets lank genoeg en gereeld genoeg sê jy dit sal glo? Hierdie is ’n voorbeeld daarvan, en dit is nie indoktrinasie nie. Dit is om ’n waarheid vas te maak sodat wanneer moeilike tye kom wat daardie waarheid op die proef stel “challenge”, dit nie geskuif of beweeg sal kan word nie. Dit voorveronderstel dat die een wat hierdie lied sing hierdie waarheid hulle eie gemaak het. Dit kom van ’n eerstehandse belewenis nie ’n tweedehandse verklaring nie. Te veel mense lees die Bybel met hulle kop maar het nie ’n ervaring om dit te ondersteun nie.

Doen jouself ’n guns en gaan kyk na Bruce Wilkinson se “The Three Chairs – Experiencing Spiritual Breakthroughs” (https://www.brucewilkinsoncourses.org/pages/free-video-teaching-segments)

“toevlug...” Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word, “machseh”, wat na ’n plek van toevlug verwys, skep die idee van ondeurdringbare vesting (Ps 61:3; 91:2). Ons sing daardie lied “Hy wat skuiling vind en bly by die Allerhoogste, sal vertoef onder beskerming van die Almagtige (x2). En ek sê vir die Heer “U is my toevlug en my vesting. My God op wie ek vertrou” (x2). Ons sit elektriese heinings om ons eiendom en installeer diefwering en alarmstelsels in die hoop dat dit ons veiligheid sal verseker wanneer ons lewens bedreig word. Maar ons weet dat dit nie ’n ondeurdringbare vesting is nie. Wanneer ’n vyand jou lewe bedreig sal jy alleenlik veilig voel as jy weet dat daar geen manier is dat hy by jou kan uitkom nie. Dit is wat hierdie Psalm sê en wat die een sê wat hierdie lied sing. Hulle sê, Wanneer God by my is, kan niks en niemand by my uitkom om my skade aan te rig nie. As die “groot nare wolf” kom, in watter vorm dit ook al mag wees – siekte, finansiële krisis, opinies van mense of wat ook al, weet ek my huis sal staande bly en nie omgeblaas word nie. Die woord “toevlug” beklemtoon God se beskerming.

Voel jy asof jy in ’n ondeurdringbare vesting is? Het jy daardie gemoedsrus of lê jy wakker en “worry” oor wat jou vyand, jou situasie, volgende met jou gaan doen?

“krag...” Die Hebrew woord wat hier gebruik word, “oz”, beklemtoon God se krag of vermoë om te beskerm of te red (vgl. Ps. 21:1; 29:11). God is nie alleen my ondeurdringbare vesting nie, maar Sý krag om te red is ook mý krag. Hy stel my in staat om elke moeilike situasie te “face” sonder om te twyfel of dit genoegsaam sal wees. Self-vertroue word nou vervang met God-vertroue maar nie in ’n sin dat ek nou terugsit en dink God gaan wonderbaarlik alles vír my doen nie. Nee, Hý gee my die krag om te doen wat ek moet doen.

Hierdie “vertroue/krag” wat ek het, kan nie los staan van die volgende deel van die vers nie; “in nood is Hy gereed om te help”. Die Engelse vertaling sê “A very present help”, ander vertalings sê “an ever-present help” of “a very sufficient help”. Die Voetnota in die NKJV sê “abundantly available help”. God se hulp is altyd toeganklik of beskikbaar vir Sy mense. ’n Mens kry die indruk dat vertalers en die kommentaar skrywers dit baie duidelik wil maak dat God se hulp in nood enige tyd beskikbaar is en dat dit meer as voldoende is. Maar, saam met die gedagte dat “hulp” beskikbaar is, wil die Psalm skrywer dit duidelik maak dat God self, in tye van nood, daar langs my is. “He is present with me to aid me in my need.”

As ons ’n Nuwe-Testamentiese aanhaling vir Psalm 46:2 kan gebruik dan sal dit Mattheus 28:18&20 wees “18En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. 20En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.”

Is jy so seker dat die Here langs jou is en reg staan om jou te help wanneer jy in nood is, of is Hy iemand daar vêr wat miskien sal help?

Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

As die Jode, 950 v.C., hierdie waarheid van wie God is kon sing, en Jesus kon sê dat alle mag aan Hom gegee is en dat Hy met ons is tot aan die voleinding van die wêreld, dan is dit vandag nog geldig en onveranderlik, en dan kan ons vandag nog steeds sing “2God is ons toevlug en ons krag; in nood is Hy gereed om te help. 3Daarom sal ons nie bang wees nie, al bewe die aarde, al verskuif die berge diep in die see; 4al bruis en skuim die waters, al skud die berge as die waters styg!” en kan ons bysit “al tref COVID-19 die hele wêreld.”

Maak hierdie onveranderlike waarheid jou eie. Fokus daarop en laat jou lewe hier rondom sentreer. Herhaal dit, sing dit lank genoeg en gereeld genoeg sodat dit onbeweeglik in jou lewe sal word.

Die Here seën jou en Hy is met jou.

Amen!

Here God, in hierdie onseker, veranderlike tye, dankie dat ons kan weet dat U onveranderlik is en dat ons op U kan reken. U is ons toevlug, ons veilige vesting, ons sterk toring, ons krag en ons Psalm, ons God op wie ons vertrou, die Een wat by ons is en gereed is om te help wanneer ons in nood is. Here wat is soos U onder die gode? Daar is niemand, niemand soos U...!

Amen!

Related Media
See more
Related Sermons
See more