Toegang tot die hemel (A)
Die belangrikste boodskap wat jy ooit sal hoor, of al gehoor het!
Toegang tot die hemel.
Ek het laasweek gesê dat as daar een ding in hierdie lewe is waarvan ons seker kan wees is dit dat verandering altyd deel van ons lewens sal wees. Of ons daarvan hou of nie, en of ons dit aanvaar of nie, dit is so.
Daar is wel sekere dinge wat nooit sal verander nie. Ons het gesien dat God nooit verander nie en daarom is Jesus ook dieselfde gister, vandag en tot in ewigheid. Daar is dus ook dinge aangaande God wat nooit sal verander nie. Ek beplan nie om vandag ’n volledige lys van daardie dinge saam te stel of om selfs oor ’n klompie van daardie dinge te gesels nie. Wat ek wel beplan om te doen, is om oor ten minste één van die belangrikste daarvan te gesels en dit is TOEGANG TOT DIE HEMEL.
Een van die onveranderlike dinge in die heelal is waarheid. Mense praat van “my waarheid” en “jou waarheid”, maar daar is net een waarheid en dit is “díe waarheid”. Daar kan “my realiteit” en “jou realiteit” wees, maar dis hoe vêr dit kan gaan.
Toe Jesus deur die Joodse Raad voor Pilatus gebring is, het Pilatus vir Jesus spesifiek uitgevra oor Sy koningskap. Eerste of Hy die koning van die Jode is. Jesus het geantwoord dat sy koninkryk nie van die wêreld is nie. Pilatus vra hom toe ’n tweede keer “So, Jy ís ’n koning?” En Jesus sê die volgende “Dit is soos u sê: Ek is 'n koning,... Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.” Pilatus het toe vir Jesus gevra “Wat is waarheid?” en sonder om vir ’n antwoord te wag stap hy buitentoe om vir die Jode te sê dat hy geen fout in Jesus vind nie.
Jesus het op ’n keer vir Sy dissipels gesê “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” (Joh. 14:6). Jesus is die waarheid en Hy verander nooit en dit wat Hy sê en leer is waarheid en daardie waarheid sal ook nooit verander nie. Die apostel Johannes bevestig hierdie waarheid as hy skryf “Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.” (1 Joh. 5:12).
So, wat is die waarheid waarvan Jesus vir Pilatus gesê het waaroor Hy (Jesus) moes getuig?
1. Daar is ’n plek waar Hy Koning is en daardie koninkryk is in die hemel.
2. Dat Hy die enigste manier is om toegang te verkry tot hierdie koninkryk.
3. Alleen burgers van daardie koninkryk sal vir ewig lewe.
Hierdie klink soos iets wat ons al baie gehoor het, maar ek wil dit vandag in geen onduidelike terme stel nie. Mense wat nie HEMEL toe gaan nie gaan HEL toe en elkeen beter seker wees dat sy/haar toegangskaartjie geldig is! Die hel is nie soos tronkstraf waar jy vrygelaat word nadat jy jou vonnis uitgedien het nie. Jy gaan vir ewig HEMEL toe of jy gaan vir ewig HEL toe. Maar elkeen het ’n keuse en daardie keuse is – aanvaar ek Jesus se woord rakende toegang vereistes of gaan ek tradisies en oorleweringe van mense glo.
Kom ons kyk na wat Jesus self vir mense gesê het:
Jesus sê vir Nikodemus, wat ’n Fariseërs was, ’n groep wat streng daarop ingestel was om die Wette van die OT na te kom, dat as iemand nie weergebore word nie, hy die koninkryk van God nie sal sien of kan ingaan nie (Joh. 3: 3-8). Jesus sê dus vir Nikodemus dat dit nie die strengste onderhouding van die Wet is wat toegang tot God se koninkryk verseker nie, maar ’n geestelike DNA verandering. Wat mense nodig het, is ’n transformasie wat van binne af kom en wat net God kan doen. Ons kan die 10 gebooie elke dag opsê, maar dit kan my nie verander nie. Ek kan elke dag kerk toe gaan, maar dit kan my nie verander nie. Ek kan die Bybel uit my kop uitken, maar dit kan my nie verander nie. Ek kan al my geld vir die armes gee, mar dit kan my nie verander nie. Net God kan my verander en Hy verander my net as ek besef dat ek a.g.v. my sonde en ongeregtigheid dood is en die hel verdien en ek Hom vra om my hart te verander en Sy wet daarop te skryf (Esgl 36:26-27).
Wanneer dít gebeur, dan WYS my lewe dit. Dan hoef ek nie Sondag vir Sondag te hoor “Jy mag nie egbreuk pleeg nie”, dan kyk ek nie eers meer na ander vrouens op ’n onvanpaste manier nie, want God se wet is nou in my hart en ek het nie meer ’n begeerte om dit te doen nie. Die óu mens is nou dood en die núwe mens, die mens wat weer gebore is, leef nou, en daardie mens sal vir altyd leef en sal in God se koninkryk kan ingaan.
God se koninkryk is nie gebonde aan tyd of plek nie, maar ons as mens is gebonde aan tyd en plek en word daardeur beperk. Wat bedoel ek daarby? As iemand tot wedergeboorte kom en God daardie persoon ’n nuwe mens maak verander hy/sy nie onmiddellik liggaamlik nie, maar wanneer Jesus terugkom dan gaan hulle in ’n oogwink verheerlikte liggame kry. Paulus skryf hiervan in 1 Kor. 15:50-51 “Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie. Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.”
Verder, as iemand tot wedergeboorte kom gaan hulle ook nie onmiddellik hemel toe nie, maar hulle het tog alreeds in God se koninkryk ingegaan. Jesus se koninkryk is nie van die wêreld nie maar Hy regeer reeds in hierdie wêreld in harte van mense.
“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.” (Joh. 3:3, 5).
Jesus sê aan die skare wat na sy preek op die berg luister... “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” Mat. 7:21-23
As ’n mens na hierdie gedeelte kyk dan sien jy hoedat baie mense houtgerus gaan wees omtrent hulle toegang tot die hemel, en tot God, maar dat hulle ’n verskriklike ontnugtering gaan kry. Daar gaan vir hulle geen geleentheid meer oorbly om hulle ewige bestemming te kan verander nie. Jesus het ’n gelykenis vertel en gesê “2Die koninkryk van die hemele is soos ’n koning wat ’n bruilof vir sy seun berei het” Dan vertel hy hoe mense genooi is maar nie gekom het nie “Maar hulle het hul daaraan nie gesteur nie en weggegaan, een na sy eie stuk land en ’n ander na sy handelsaak.” en hoe die koning toe sy diensknegte gestuur het om almal wat hulle teëkom te nooi. Toe die koning by die bruilofsaal ingaan kry hy iemand wat nie die regte “dress code” gevolg het nie “...En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie ’n bruilofskleed aan het nie. En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ’n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie. Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande.”
Wat is daardie regte “dress code”? Paulus sê vir ons wat dit is in Rom 13:14 “Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.”
Jesus het mos vir sy dissipels gesê dat Hy die weg tot die Vader is en niemand na die Vader toe kan gaan behalwe deur Hom nie.
So, Jesus sê vir Nikodemus (wat kerkleiers en predikante voorstel) dat ’n mens weergebore moet word. Vir die skare sê Hy dat hulle nie net moet “sê” dat Jesus hulle baas is nie, maar dat hulle lewe dit moet wys. Johannes die doper het dieselfde vir die Fariseërs en Sadduseërs gesê nl. dat hulle vrugte moet dra wat by die bekering pas. En Jesus sê vir Sy dissipels dat Hy die enigste weg tot die Vader is.
Hoeveel duideliker kan ’n mens dit nog sê? Tog is daar mense wat hierna sal luister wat dink, omdat hulle die Bybel van kleins af gehoor het, aan ’n kerk behoort en selfs ’n “goeie” lewe (in hulle oë) leef, hulle daarom hemel toe gaan. Maar dis nie wat Jesus en die Woord sê nie. Ons sien dus dat mense dink daar twee “waarhede” is. Nee, daar is net één waarheid en dit is Jesus. Daar is net één manier om in die hemel te kom en dit is Jesus se manier. Die manier van bekering en wedergeboorte. Bekering sê ek draai NA God toe en leef nie meer soos ék wil nie, maar soos Hý wil. Wedergeboorte sê dat ek dit nie uit myself uit kan regkry nie. Ek moet God vertrou (glo) dat Hy my wil, sal verander na Sy wil toe en Sy wet op my hart skryf sodat ek nou nie meer volgens ’n uiterlike wet leef nie, maar van binne af wíl doen wat reg is. Ek het ’n begeerte na God en Sy dinge. Sý manier van dinge doen, is nou belangriker as mý manier.
Hoe bekeer ek my tot God en hoe word ek wedergebore? Hoe kom ek in die hemel? Dis maklik. Doen net wat die Woord sê. Aanvaar wat Jesus gesê het en dit is dat NIEMAND goed is nie behalwe God (Mat. 19:17). Dit sluit dus alle mense in en alle mense verdien daarom die hel (Rom. 3:23) “...almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,” m.a.w. mense kan nie in hulle sondige toestand in die heerlikheid van God bestaan nie en kan daarom nie hemel toe gaan nie tensy hulle geregverdig word nie. Rom 6:23 sê “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.”
Wat moet ons doen om hel toe te gaan? Niks nie. Almal is op pad hel toe. Dit is hoekom Jesus mens geword het. Sodat Hy mense kan red en verlos van hulle sonde. Jesus het immers self gesê “Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.” (Luk. 19:10). So, draai na God toe, vra Hom om jou te vergewe en te verander en glo dan dat Hy dit gaan doen.
Ek wil nie vandag iemand probeer BANG maak met die HEL nie. Ek gee genoeg om, om mense te waarsku sodat hulle nie dink hulle is op pad hemel toe net om ’n verrassing te kry wanneer dit te laat is nie. Ek wil terugkom by waar ons begin het. Jesus sê vir Pilatus “Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem.” (Joh. 18:37). In Handeling hoor die mense Jesus se stem (deur Petrus wat preek) en vra: “Wat moet ons doen broeders?” En Petrus sê vir hulle: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.” Dis ’n eenvoudige boodskap wat tot kinders kan verstaan.
Die vraag is: Is jy bereid om dit te doen? Is jy bereid om na Jesus se stem te luister? Het jy Jesus waarlik lief? Hy sê: “As julle My liefhet, bewaar my gebooie” (Joh. 14:15), en Hy sê ook: “Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het. Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee. Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel.”
Christenskap en hemelse burgerskap gaan nie oor ons en ons begeertes nie. Dit gaan oor Jesus en ons liefdesverhouding met Hom. Hý is die weg en die waarheid en die lewe. Uit Hóm en deur Hóm en tot Hóm is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid. Dit is die waarheid en hierdie waarheid is vas en seker en sal nooit verander nie. Amen!
As jy nie seker is oor jou hemelse burgerskap nie, bel my asseblief. My nommer is onder aan die skerm en ek sal dit aan die einde van die diens herhaal vir die wat net die audio van hierdie boodskap het.
Kom ons bid saam.
Here God,
U sê dat U nie wil hê dat een mens verlore moet gaan nie, maar dat almal tot bekering kom, gered word en tot kennis van die waarheid kom. Vader, uit U genade en lankmoedigheid en liefde vir mense, mag hierdie waarheid van wat ons vandag gehoor het, elkeen wat hierna luister se waarheid wees of vandag hulle waarheid word.
Here, mag niemand hulle harte vandag verhard en die waarheid van Hebreërs 3 hulle waarheid word nie wat sê ““Vandag wanneer julle sy stem hoor, moet julle nie julle harte verhard soos Israel gedoen het toe hulle gerebelleer het nie.” Wie was daardie mense wat gerebelleer het alhoewel hulle God se stem gehoor het? Was hulle nie die mense vir wie Moses uit Egipte gelei het nie? En vir wie was God 40 jaar lank kwaad? Was dit nie die mense wat gesondig het en wat in die woestyn omgekom het nie? Oor wie het God met ’n eed verklaar dat hulle nie sy land van rus sal binnegaan nie? Was dit nie juis hulle wat aan Hom ongehoorsaam was nie? Ons sien dus dat dit juis as gevolg van hulle ongeloof was dat hulle nie in die land van rus kon ingaan nie.”
Here God, dankie vir U goedheid en verdraagsaamheid en geduld met ons omdat U ons tyd wil gee om tot inkeer te kom sodat ons n ewigheid saam met U kan wees.
Amen.