Die omvang van liefde & haat
Onveranderlike Waarheid (Deel 3)
Die omvang van liefde en haat
Hoe pas liefde en haat in by onveranderlike waarheid? 1 Joh. 4:16 sê “God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.” God verander nooit en daarom verander liefde ook nooit. Maar saam met liefde gaan haat. Haat is die teenpool van liefde.
Omdat ons die vermoë het om lief te hê het ons ook die vermoë om liefde te weerhou of om te haat. Van nature is ons geneig om eerder liefde te weerhou of om te haat omdat ons van nature self-gesentreerd is terwyl liefde ander-gesentreerd en self-opofferend is. Haat klink na ’n baie sterk woord maar wanneer ek iemand anders kwaad aandoen, dan haat ek hulle want liefde kan nie kwaad doen nie (Rom 13:10).
Ons is nie altyd daarvan bewus dat ons ander haat nie, want ons dink dat as ons nie venynig is of nie ’n persoon aktief te na kom nie, dat ons hulle nie haat nie. Ongelukkig sny haat baie dieper as wat ons dink maar die teendeel is ook waar, liefde raak ook baie wyer aan as wat ons dink.
As ons na die tien gebooie luister dan hoor jy “Jy mag nie..., jy mag nie..., jy mag nie...” Die doel van die wette is nie om ons in te perk nie, maar om vir ons te wys wat die teendeel van daardie wette is. Om iets van iemand anders af te vat, of te steel, is die teenoorgestelde van om iets vir iemand te gee. Ontrouheid aan my huweliksmaat is die teenoorgestelde van getrouheid. Die twee pole is “goed” of “sleg”. Daar is nie ’n neutrale gebied nie. Daar is wel neutrale omstandighede. Dit is omstandighede waar daar geen aksie vereis word nie, byvoorbeeld wanneer ek by ’n persoon in die straat verbyloop of wanneer ek in die ry by ’n winkel staan en wag om te betaal. Op daardie oomblik word daar geen aksie van my kant af verwag nie, maar sodra daar ’n aksie vereis word gaan ek, of met liefde, of met haat reageer. Dit is net die omvang of intensiteit wat gaan verskil. Baie liefde of min liefde, baie haat of min haat. En net ingeval jy vergeet het, liefdeloosheid is dieselfde as haat. Haat “klink” net baie kras en ekstreem, maar dit is nie. As ons nie liefde en haat kan sien vir wat dit is nie dan gaan ons die krag daarvan mis.
Een van ons grootste probleme wat ons in die lewe het, is dat ons dink ons die beoordelaar van liefde kan wees. Ons dink ons weet wanneer ons in liefde opgetree het of nie en ons dink ons weet wanneer iemand anders in liefde opgetree het al dan nie. Op die einde van die dag is dit net God wat kan bepaal of iemand liefdevol of liefdeloos opgetree het want Hy alleen ken die motiewe van die hart. Ons kan om die bos gelei word en ons kan tot onsself mislei. Daarom kan ons hoogstens ons eie optrede meet aan die hand van die waarheid van die Bybel. Die Bybel is ons H.B.S. (Hemelse Buro van Standaarde).
So seker as wat ons daarvan kan wees dat verandering altyd deel van ons lewens sal wees, so seker kan ons ook wees dat ons almal op een of ander manier van mekaar verskil. En hoewel ons weet dat ons van mekaar verskil dink ons tog onbewustelik dat almal rondom ons dink en voel soos ons dink en voel. Ons dink dat as ons op ’n sekere manier sou optree dat almal op daardie selfde manier behoort op te tree, of as ons níe op ’n sekere manier sou optree nie dat niemand so behoort op te tree nie. As jy nou hierdie twee kern-probleme bymekaarsit – ons wat mense se optredes beoordeel en tot ’n gevolgtrekking kom of dit liefdevol, konsidererend, van pas ens. is en die gedagte dat almal tot daardie selfde gevolgtrekking moet kom, dan is dit geen wonder dat ons so sukkel om liefde te verstaan en uit te leef nie.
Ek is seker jy het al van Gary Chapman se “Five Love Languages” gehoor? Daarin verduidelik hy dat elkeen van ons verskillende maniere het om ons liefde uit te druk. En hoewel hy vyf maniere noem en sê dat elkeen enige kombinasie van daardie “liefdestale” het, maak hy nie eers melding daarvan dat die manier waarop jy liefde gee en liefde ontvang ook van mekaar kan verskil nie. Jy kan dalk daarvan hou om dinge vir mense te doen as ’n bewys van jou liefde terwyl jy beleef dat mense jou lief het deur woorde van bevestiging of erkenning. Die liefdestaal waarmee jy dalk die minste assosieer is kwaliteit tyd. Wanneer jy dus by iemand (’n werknemer - Jannie) kom wat siek is, wil jy graag iets vir hom doen, maar omdat daar nie veel is wat jy kan doen nie wens jy hom sterkte toe en gaan jy weer jou normale gang. Omdat Jannie se ontvang-liefdestaal kwaliteit tyd is, beleef hy jou as iemand wat nie omgee nie. Wat dit erger maak is dat Jannie weer met iemand anders (Dolf) gesels en die stelling maak dat jy regtig nie omgee vir mense wat siek is nie en ook nie vir jou werknemers nie.
Is dit die waarheid? Nee. Wat gebeur het, is Jannie het gedink dat, omdat hy tyd met iemand sou deurbring wat siek is, almal veronderstel is om dieselfde te doen. Tog is kwaliteit tyd nie noodwendig eers Jannie se gee-liefdestaal nie, maar dit is wat hy nodig gehad het om te voel dat iemand omgee en liefde wys. Die tweede liefdelose optrede van Jannie (buiten dat hy nie kon raaksien dat jy omgee nie) was om jou reputasie by iemand anders (Dolf) in die gedrang te bring. Alhoewel die stelling nie waar is nie, is die saad in Dolf se kop geplant dat jy nie omgee nie. Dolf gaan nou met hierdie vooropgestelde filter (al is dit onbewustelik) alles wat jy doen beoordeel en as jy weer in ’n situasie kom waar Dolf voel hy die situasie anders sou hanteer het, dan maak hy dit vir homself uit dat jy ’n persoon is wat nie omgee nie. So word hierdie bose kringloop van haat herhaal met elke ander persoon vir wie daar gesê word dat jy nie vir jou werknemers omgee nie.
Die duiwel se troefkaart is dat nie Jannie of Dolf dink dat hulle jou haat nie. Hulle dink dat hulle maar net die “waarheid” (wat eintlik false getuienis is) met iemand anders gedeel het, inplaas daarvan om hulle gevoelens met jou te deel of die beste van jou te geglo het. Dit is tog immers wat 1 Kor. 13:4-7 sê ons moet doen.
Elkeen van ons beleef liefde anders (hoe ons graag wil hê ander moet wys dat hulle ons lief het) en dan wys ons ook selfs liefde anders as wat ons dit wil kry – soos ek reeds gesê het. Daarom is dit noodsaaklik dat sal besef ons verskil van mekaar en moet ons minder besorg wees oor hóé ons liefde kry maar eerder sal fokus op hoe ons liefde géé! Laat ander toe om hulleself te wees want as ons van iemand verwag om iets anders te wees as wie hulle is dan maak jy dit vir hulle moeilik om regtig lief te hê. God het hulle gemaak wie hulle is sodat hulle hul kwaliteite, gawes, persoonlikheid, belange ens. (wie hulle is) kan gebruik en tot die beste toe kan gebruik om ander te dien en lief te hê. Onthou Jesus se woorde in Mattheus 7 “MOENIE oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.”
Be your best self not for yourself but for the benefit of others because love does not seek its own interest but the interest of others (1 Kor. 13:5; Fil 2:4).