Liefde wat hoop

Liefde  •  Sermon  •  Submitted   •  Presented   •  25:47
0 ratings
· 121 views

Daar kan nie geloof sonder hoop wees nie en selfs liefde is 'n waagstuk omdat dit gebou is op 'n mens se vrye will. Ek kan niemand vorseer om my lief te hê nie. Maar as ons met hoop lief het dan verwag ons die beste van mense en kyk ons om die beste in ander raak te sien

Files
Notes
Transcript

Liefde

Liefde wat hoop

Ek hoop dat jy hierdie week nader aan God begin leef het. Dat jy meer tyd saam met Hom spandeer het en dat jy vir die Here gesê het dat jy meer “persoonlik” met hom wil raak. As ons na Jesus se antwoord oor wat die grootste gebod is luister dan sien ons dat ons God moet liefhê, mense moet liefhê en onsself moet liefhê. Nêrens word daar genoem dat ons dinge moet liefhê nie. Inteendeel, Johannes sê dat as ons die wêreld en sy dinge lief het dan het ons nie die Vader lief nie. Hoor hoe sê hy dit in 1 Joh. 2:15-16: “15 Hou op om die wêreld en die dinge van die wêreld lief te hê. As iemand die wêreld liefhet, is hy beslis nie ook lief vir die Vader nie. 16 Wat ook al in die wêreld bestaan, alles wat tipies is van die menslike begeerte, die begeerte vir alles wat die oog sien, en die vals roem op besittings, kom nie van die Vader nie, maar het sy oorsprong in die wêreld.”

Jy het seker al menige kere hierdie drie woorde saam gesien, in winkels, op mure, in tuine en dit ook in verskillende vorme – GELOOF-HOOP-LIEFDE.

1 Kor. 13:13 – AOV “13 En nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.”

Daar is ook ’n rede hoekom hierdie drie woorde saamhoort. Daar kan nie geloof sonder hoop wees nie. Heb. 11:1 sê “Geloof dan is ’n vaste vertrou op die dinge wat ons hoop.”, of soos die Nuwe Vertaling dit sê “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop...” En liefde is ’n waagstuk, want liefde is gebou op iemand se vrye wil. Doen jouself ’n guns en gaan luister na Ravi Zacharias se antwoord op waarom God nie iemand keer om kwaad te doen nie (https://www.youtube.com/watch?v=44Crx0v7nzs).

Ek het twee weke terug in my boodskap “Die omvang van liefde en haat” gesê dat as ek iemand lief het ek hulle nie sal kwaad aandoen nie en ek het Rom 13:10 aangehaal wat sê “Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.” Om iemand dus lief te hê beteken dat ek wil goeddoen teenoor ’n persoon en ek hoop dat daardie persoon met liefde sal terug reageer en goeddoen teenoor my. Vir daardie rede kan ek selfs my vyande liefhê met die verwagting of die hoop dat daardie vyandigheid verander sal word na ’n goedgesindheid wat tot vrede en ’n wederkerige goeie verhouding kan lei.

Ware liefde glo die beste van ander mense. Dit maak dat jy nie tipies agterdogtig is nie, maar dit veroorsaak óók dat jy baie keer teleurgestel word. Liefde sê “Ek kyk om die beste in jou raak te sien.” Dit soek na die goeie. Sê die Bybel nie tereg dat die wat soek sal vind nie? Soek die goeie en jy sal die goed in iemand kry, maar soek fout en jy sal foute vind. Ons sien die afwesigheid van hierdie soort liefde, liefde wat glo, so baie. Toe ek in die Lugmag was, was daar ’n poster in die kantoor op gewees wat lees “When I’m right, no-one remembers. When I’m wrong, no-one forgets.” Is dit nie tragies nie? Wens jy nie net dat ten minste één van die aspekte in 1 Korintiërs 13 van die meeste mense waar sal wees nie. Kyk wat sê vers 7 “Die liefde bly stil oor ander se foute, dit bly steeds vertrou, dit hou aan met hoop, dit verduur alles.”

Liefde dikteer my gedrag en optrede. Dit bepaal wat ek sê en hoe ek dit sê (Kol 4:6). Liefde bepaal hoe ek reageer in moeilike of ongunstige omstandighede. Liefde wat glo maak verhoudings hegter. Dit maak dat ek nie opgee op iemand nie. Vat die gelykenis van die verlore seun. Die pa het nooit opgegee op die seun nie, maar gewag dat hy moes terugkom. Kyk hoe mooi sê die Living Bible dit “If you love someone, you will be loyal to him no matter what the cost. You will always believe in him, always expect the best of him, and always stand your ground in defending him.” Ek weet van mense wat nie kerk toe kom nie omdat hulle bang is vir wat ander van hulle sal sê. Ek weet van gesinne wat nie kerk toe kom nie omdat hulle ’n uitval met familie gehad het. Vergifnis is ’n produk of ’n uitvloeisel van liefde wat glo. Partykeer lei liefde tot vergifnis en bring dit weer mense bymekaar.

Soos ek in die begin gesê het bly liefde ’n vrye keuse. Jy moet kies om lief te hê. Don Francisco sing ’n lied wat sê “Love is not a feeling, it’s an act of your will.” As ons die tipe liefde wil hê wat glo moet ons die keuse doen om dit te doen. Dit kom nie vanself nie. Jy moet dit kies en dan moet jy dit oefen totdat jy verander het om so lief te hê. En selfs dan kan jy nie verslap nie. Jy moet aanhou die keuse doen om so lief te hê. Jy moet aanhou om die mooi in mense te soek. Jy moet aanhou om die beste van mense te glo. Jy moet aanhou om lojaal te wees ongeag wat dit kos. Jy moet aanhou om iemand se reputasie te verdedig wanneer ander agteraf sleg praat en skinder en in diskrediet wil bring.

Die wêreld het ’n tekort aan mense wat so lief het. Die vraag is nou: Gaan ons daardie mense wees wat so gaan liefhê? Is jy bereid om te verander om dit of te begin doen, of om “gears” te “shift” en dit radikaal meer te doen? Of gaan jy opgee op ’n verhouding wat in elk geval lyk of dit nie gaan werk nie. Gaan jy die een wees wat uitreik en gebroke verhoudings probeer herstel, die minste wees en “man up” vir jou aandeel tot daardie stukkende verhouding of gaan jy “blame shifting” doen en wag vir die ander party om die eerste stap te vat?

“Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” (Joh. 13:35). Hoe pas hierdie in by jou liefde vir God? Het jy Hom lief met jou hele hart, met jou hele siel, met jou hele verstand en met al jou krag? As ons só liefhet gaan ons inderdaat groot dinge sien gebeur, en ek wil deel wees daarvan. Maar ek wil saam met jóú deel wees daarvan!

Kom ons bring die wat uitgeval het, die wat opgegee het, die wat bang is weer terug. Kom ons gaan uit en hê lief met hoop.

Related Media
See more
Related Sermons
See more
Earn an accredited degree from Redemption Seminary with Logos.