Wag is nie tydmors nie
Lewe Gedissiplineerd
Wag is nie tydmors nie
Om te moet wag is seker een van die moeilikste dinge vir ons as blanke Suid-Afrikaners. Ons is altyd haastig. Dinge moes al gister gebeur het, en as ons moet wag dan raak die meeste van ons omgesukkel. Het jy al ooit gewonder hoekom dit so is? Ek dink dat as jy mense hieroor gaan uitvra gaan jy antwoorde kry soos:
• “Tyd is geld”, met die implikasie dat iemand geld verloor as hy/sy moet wag.
• “Die werk moet loop” wat weereens sou beteken dat as iemand moet wag dan staan die werk stil en as die werk stilstaan dan kom die geld nie in nie.
• “Ek het nie tyd vir nonsens nie” of “Ek het beter dinge om te doen” Wat die persoon dan sê is dat sy tyd of aktiwiteit belangriker is as die volgende persoon s’n.
Ons dink om besig te wees en dinge gedoen te kry is belangriker as die mense rondom ons. Aan die ander kant wys dit ook dat ons totale “control freaks” is. Ons wil in beheer van omstandighede en situasies wees en ons meet ons sukses en waarde aan hoeveel ons gedoen kry of waar ons ’n persoonlike bydrae kan maak (al is dit net in die vorm van ’n opinie). Om dinge teen ’n stadiger tempo gedoen te kry word nou gesien as ’n swakheid en onproduktief. Mense word gereduseer tot komponente wat moet bydra tot produksie.
Daar is ’n spreekwoord wat so eie is aan ons boere volk “’n Boer maak ’n plan.” Om ’n plan te maak is nie in sigself verkeerd nie. Inteendeel, om planne te maak is ’n God-gegewe voorreg. Die probleem is dat die planmaker dink dat dit sý (of háár) briljante plan was. Wanneer dinge dan buite iemand se beheer raak, waar hulle nie meer planne het nie of waar hulle planne nie meer uitwerk nie, dan raak hulle angstig. Het jy al agtergekom dat die een wat die planne maak ook verantwoordelik bly vir daardie planne. Jy ken die grappie van die man wat die bank baie geld geskuld het en saans nie kon slaap nie. Hy het wakker gebly en op en af gestap om planne te maak van hoe hy die geld gaan terugbetaal. Op ’n dag het hy net besef dat hy nie die geld gaan kan terugbetaal nie en hy bel toe bankbestuurder en sê vir hom dat hy nie die geld gaan kan terugbetaal nie. Daardie aand het hy baie rustig geslaap en die bankbestuurder het wakker gelê en ge-“worry” hoe hy die geld gaan terugkry.
Spreuke 3:5-6 sê “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” Net omdat ons in God glo beteken nie dat daar nie moeilike tye gaan kom waaroor ons nie beheer het nie. Ons het nie beheer oor COVID-19 nie. Ons het nie beheer oor hoe die regering dit gaan hanteer nie. Ongeag of jy met hulle planne saamstem al dan nie. Jy het nie beheer daaroor nie. Jy het nie beheer of jy afgelê gaan word nie. Jy kan planne maak soos jy wil maar jy kan nie 100% seker wees dat jy nie die COVID-19 virus gaan kry nie. Hoe meer ons beheer van ons eie lewens wil vat hoe meer druk die verantwoordelikheid daarvan jou in die grond in en hoe meer “stress” dit jou uit. “Stress” is maar net ’n ander woord vir vrees en wanneer vrees oorweldigend is dan bring dit hopeloosheid. Wanneer daar nie meer ’n uitkoms is nie. Wanneer jy nie meer ’n plan kan maak nie. Dit is dán wanneer jy voel dat jy heeltemal alleen op hierdie aarde is. Jy moet dinge alleen hanteer. Daar’s niemand wat jou bystaan en jou ondersteun nie...
KYK VIDEO (2min)...
Die teenvoeter vir stress is geloof en vertroue, maar dit nie vertroue in my vermoë of ander se vermoë nie. Dis vertroue in God. Hoor wat se Dawid in Psalm 27:1-3, 13-14. “Die Here is my lig en my redding. Vir wie moet ek dan vrees? Die Here is my lewenstoevlug. Vir wie sal ek dan bang wees? 2 Wanneer bose mense kom om my te verslind, my vyande en teenstanders my aanval, struikel en val húlle. 3 Al sou ’n magtige leër teen my optrek, ek sal nie bang wees nie. Al sou hulle my aanval in ’n geveg, selfs dán sal ek hoopvol bly. 13 Tog is ek daarvan oortuig: Die Here se goedheid sal ek sien hier in die land van die lewendes. 14 Vertrou op die Here! Wees sterk en skep moed! Ja, vertrou op die Here!” Vers 14 in die Ou Vertaling sê dit so: “Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die HERE!”
As ek op die Here wag, dan sê ek vir Hom; “Here, ek het nie ’n plan nie, maar U het ’n plan. Wys vir my U plan” Wag is nie “tyd mors” nie. Om op God te wag is om verseker te wees van ’n uitkoms. Dis om op die Here te vertrou met volle geloof versekerdheid. Ek verklaar dan dat ék nie in beheer is nie. En as ek nie in beheer is nie dan het ek ook nie die verantwoordelikheid vir die uitkoms daarvan nie. Ek het nie die “stress” van die situasie nie. Ek word sterk en vol moed. Ek kry “nuwe krag” soos Jesaja 40:31 sê “maar die wat op die HERE wag (hulle hoop op die Here stel), kry nuwe krag (sal hulle krag terug kry); hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel (loop) en word nie mat (vermoeid) nie.” As jy vanoggend nuwe krag nodig het; as jy nuwe hoop nodig het; as jy net weer jou kop wil, kan optel en die lewe in die gesig staar en nie bang wees vir wat wag nie, dan wil ek vir jou sê “WAG OP DIE HERE” Laat Hom toe om ’n nuwe uitkyk vir jou te gee. Verklaar soos Dawid dat die Here jou toevlug is en dat jy nie bang hoef te wees nie. En as jy so besig was dat jy nie tyd gehad het om op die Here te wag nie, bely dit nou voor die Here en maak dit van vandag af reg. Moenie wag vir môre nie. Maak vandag tyd om op die Here te wag.
Gaan op ’n plek waar jy alleen is en begin net met God te praat oor wat jou bang en bekommerd maak. 1 Pet. 5:7 sê “Werp jou bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.” Vat jou foon en Google die lied “I surrender” en terwyl jy daarna luister dan steek jy jou hande in die lug (of jy nou daaraan gewoond is of nie). Steek jou hande op as ’n profetiese en simboliese handeling dat jy aan die Here oorgee en jou hande uitstrek soos iemand wat uit ’n gat uit, of uit die see uit opgetrek wil word.
Wanneer n mens wag dan kan jy nie haastig wees nie. Jesaja 28:16 sê “...hy wat glo, sal nie haastig wees nie.” Moenie haastig wees in jou tyd saam met die Here nie en moenie haastig wees om ’n uitkoms of ’n antwoord te kry nie. Dink net wat met Saul gebeur het toe Samuel vir hom gesê het om in Gilgal te wag totdat hy kom. Saul raak paniekerig en maak ’n groot fout wat hom sy koningskap kos. Moenie haastig of bevrees wees as dinge nie uitwerk soos jy gedink het dit sou of moes uitgewerk het nie. Lees sommer weer die hele Psalm 27 en as jy wil Psalm 28 hardop. Lees dit met geloof en vertroue en maak dit dan jou eie.
Wag op die Here want om te wag is nie tydmors nie!