Kwaliteitsbeheer
Lewe Gedissiplineerd
Kwaliteitsbeheer
Ons het almal redes en oorwegings wat ons beïnvloed as ons iets wil koop. Ons redes verskil maar daar is ’n paar algemene redes soos:
1. Prys – veral as jy jou sente moet omdraai.
2. Kwaliteit – want jy het al ’n paar lesse in die lewe geleer soos “Goedkoop koop is duur koop.”
3. Waarborg – ek dink nie ek hoef veel meer hieroor te sê nie, want in vandag se lewe kort jy ’n waarborg.
4. “Brand” – Toyota of Ford; Adidas of Nike; Clover of No-Name ens.
Hoekom speel hierdie dinge ’n rol wanneer ons besluite maak oor wat ons gaan koop? Want ons soek kwaliteit. Ons almal kla deesdae oor kwaliteit, veral in ons land. Ons het baie om oor te kla veral as dink aan dinge soos:
• Gesondheidsorg
• Onderrig
As jy na die kwaliteit van gesondheidsorg en onderrig kyk (en luister mooi, ek sê nie Hoedspruit het slegte onderwysers nie!), dan reis meer as net wenkbroue. Die slaagsyfer vir hoërskole in Suid-Afrika (om jou graad deur te kom) is 30%. Statistiek wys dat net 7% van matrieks in Suid-Afrika sou geslaag het as ons die standaard van die Filippyne gevolg het, 16% sou slaag as ons die standaard van die VSA of China sou volg, en 33% matrieks sou slaag as ons die standaard van die Australia of Canada sou volg.
Dink bietjie daaraan, sou jy jou kar na ’n werktuigkundige toe vat wat net 30% weet van hoe ’n enjin werk? Sal jy ’n dokter of chirurg gaan sien wat net 30% kennis op hulle vakgebied het? Sal jy in ’n huis gaan bly waar die bouer net die helfte (½) van die sement gebruik het, of die fondasie net die ½ van die dikte gegooi het? Wat van iemand wat 15 jaar gevat het om sy B.Sc. graad te gekry het, sal jy hom in diens neem?
Ons weet veral in die vrugte bedryf dat as jy wil uitvoer net die beste goed genoeg is en dit vra harde werk, tyd en geld om dit in plek te hê.
Maar die feit is, ons as mense, ONS ALMAL, soek die heel beste. Dis ons aard.. Ons smag na kwaliteit in ons lewe. Niemand soek goed wat sleg is, of breek, of onaanvaarbaar of stukkend is nie. Dis hoekom ons so baie keer woorde gebruik soos: Waarde vir geld... Bargain... Beste... Top... Eerste klas ens.
Dit tel ook vir ons verhoudings. Ons wil kwaliteit verhoudings hê. Maar die woord “verhouding” impliseer dat jy ’n “connection” van een of ander aard met iemand het. En ’n verhouding praat van ’n wisselwerking. Dit het sekere kwaliteite, of die persone in die verhouding het sekere verwagtings van mekaar. Hierdie verwagtings en die kwaliteit van een verhouding verskil dan ook van ander verhoudings, bv.
• Werksverhouding
• Vriendskappe
• Dokter/Pasiënt
• Familie – Huwelik, kinders
• Geestelike familie
• Verhouding met God
As ons dan vra hoekom sekere verhoudings bestaan kom ons outomaties by die kwaliteit van van die verhouding uit. En vandag fokus ons op ons verhouding met God en die kwaliteit van verhouding wat jy met Hom het.
So, het jy al gedink hoekom jy ’n verhouding met God het? Jou redes kon dalk ook met tyd verander het. Ek gaan ’n paar redes noem:
1. Jy het (waarskynlik) ’n verhouding met God omdat jy jy in die eerste plek besef het dat God ’n werklikheid is – dat Hy “REAL” en omdat Hy die ware God is, het jy...
2. Hom nodig. Hy is groter as wat ons is...
3. Jy kan nie sonder Hom doodgaan nie... Hy bepaal of jy hemel toe of hel toe gaan.
4. Jy kan/wil nie sonder Hom lewe nie. Jy het Hom nodig om jou daaglikse probleme vir jou op te los (siek, arm, krag ens.)
5. Jy wil vir Hom lewe – jy gee jou lewe vir Hom... Jy wil soos Hy wees... Jy wil Hóm gelukkig maak.
[3 & 4 gaan oor Sy liefde vir jou; 5 gaan oor jou liefde vir Hom]
Jou hele lewe is ’n refleksie van jou geloofsoortuigings en jou verhouding met God. Dis jou rede hoekom jy dinge doen of nie doen nie. Die kwaliteit van jou verhouding met God bepaal ALLES. Dit bepaal jou HOE WAT WANNEER VERSKONINGS DADE ens. Daarom het elkeen van ons nodig om ’n kwaliteitskontrole van ons EIE lewe te neem. Dit help nie om die vinger na iemand anders te wys of jouself te probeer regverdig nie. Dawid sê in Ps. 139:23-24 “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; kyk of daar enige sondige neiging by my is, en lei my op die ewige pad.” Maar partykeer is dit nodig om foute uit te wys omdat ons soms blind is vir ons eie foute.
Hoe praat jy?
Hoe doen jy?
Hoe is jy?
Die antwoord op al hierdie vrae moet uit jou verhouding met God kom. Jou verhouding met God bepaal jou redes, verskonings, dade en gedrag. Ons neem baie keer besluite en tree baie keer op op grond van...
• Hoe ons voel of hoe ons deur dinge geraak word.
• Iemand anders se optrede.
• Wat ons dink vir ons belangrik is of wat óns graag wil doen of as prioriteit sien.
In Lukas 14:15-35 lees ons oor die Groot feesmaal wat ’n man gehou het en al die verskonings wat die gaste gehad het.
• Stuk grond gekoop
• Osse gekoop
• Pas getroud
Dan net daarna praat Jesus oor wat dit kos om ’n dissipel te wees en dat jy eers mooi moet gaan sit en dink of jy bereid is om die prys te betaal sodat jy enduit kan volhou.
Hoe lyk die vrug van die Gees in jou lewe en hoeveel vrug is daar. Jesus sê vir ons in Joh. 15:8 dat die Vader wil hê dat ons baie vrug dra. Hoe lyk die kwaliteit van LIEFDE in jou lewe? Doen jy goed aan mense en moedig jy ander aan om goed te doen (Heb. 10:24)? Ek het die laaste ruk baie oor liefde gesels. Hoe het dit jou verander om meer lief te hê, of is jy dieselfde persoon wat jy ’n maand terug was?
Wat van GETROUHEID? Is jy getrou aan selfs die klein dingetjies waarmee God jou toevertrou. Gebruik jy jou gawes en talente wat God jou gegee het om ander te dien? Hoe getrou is jy Bybelstudie? Hoe gereeld bid jy vir meer as net jou behoeftes?
Wat is die rede as jy keuses maak en dinge doen of nie doen nie?
• Dalk iemand wat jy lanklaas gesien het bel of by hulle gaan draai.
• Hoekom jy selgroep toe gaan.
• Hoe jy by die werk optree.
• Of jy “ongeskik” mag wees met iemand wat “incompetent” is.
• Of jy iemand van jou af mag “wegstoot” of nie.
• Of jy iemand gaan vergewe of nie.
• Of jy kerk toe kom of nie.
• Of jy mag vloek, ’n leuen vertel.
• Hoe word jy kwaad?
• Hoe hanteer jy “stress” of vrees?
• Hoe doen jy liefde, geduld en omgee?
• Hoe verdra jy ander mense?
Hoeveel van jou verhouding met God gaan oor hoe jy jou lewe vir Hom aflê en vir Hom lewe.
Mense is in die tyd waarin ons lewe BAIE sensitief en versigtig om niemand aanstoot te gee nie, behalwe God.
As God vandag voor jou staan en jou redes vir hoekom jy dinge doen, besluit, hoe jy optree en hoe jy is, moet hoor, sal Hý gelukkig wees of sal Hy aanstoot neem? Is Hy die rede vir al jou keuses – en vir die kwaliteit keuses wat jy maak? Het jy ’n kwaliteit verhouding met God (nie perfek nie)? Lewe jy om Hom gelukkig te maak in ALS wat jy doen?
Ons is nie tevrede (en behoort ook nie tevrede te wees) met swak kwaliteit produkte of diens nie, maar ons kan ook nie tevrede wees met ’n swak kwaliteit geestelike lewe nie. Kom ons doen kwaliteitsbeheer en lewe gedissiplineerd. Laat toe dat die Heilige Gees jou hart deursoek en deurgrond en jou lei op die pad wat eer aan ons Vader in die hemel, die Seun aan sy regterkant en die Heilige Gees in ons harte bring.
Amen.