Trap sy tjank af
Lewe Gedissiplineerd
Trap sy tjank af
Jakobus 4:1-10
Was jy die afgelope 24uur in konflik met iemand gewees? Het jy woordewisseling of ’n argument met iemand gehad? Dalk met jou huweliksmaat, dalk met jou ma of pa, dalk met ’n boetie of sussie. Dalk het jy woedend kwaad geword vir iets wat jy op die nuus gesien het. Wat se reaksie het hierdie situasie op jou gehad? Het jy vir iemand gesê “Man, vlieg in jou kanon in.”, maar jy wou nie, of het nie die woord “kanon” gebruik nie? Het iemand se opinie van jou verskil en toe besluit jy om hom/haar ’n “pièce of your mind” te gee? Dalk het hierdie goed nie in realiteit met jou gebeur nie, maar in jou gedagtes was dit “genuine” gewees. Hierdie dinge het in jou kop gebeur. Jy wou dalk iemand so sleg gesê het dat die see hulle nie kan skoon was nie, of jy wou dalk iemand bygekom het en die wit waks uit hulle ge....slaan het. Dalk het hierdie dinge nie in die laaste 24 uur gebeur nie, maar soos ek dit genoem het, het hierdie insidente by jou opgekom en ek is seker daarvan dat as ek nou ’n ding aan jou kan koppel wat jou hartklop en bloeddruk kan meet gaan dit hoër wees 2 min. terug.
Waar kom hierdie konflik vandaan? Die Apostel Jakobus het presies dieselfde vraag gevra. Ek wil jou wet dat die laaste antwoord wat jy my gaan gee, of die laaste plek wat jy sal sê dit vandaan af kom van jouself af is. Ons is ons eie grootste vyande want ons het nie eers vrede binne-in onsself nie. Hoe kan ons in vrede en harmonie met ander leef as daar ’n innerlike stryd in onsself is? Jakobus het nie alleen die vraag gevra nie, hy het ook die antwoord gegee in Jakobus 4:1 “Waar kom die rusies en gevegte onder julle vandaan? Is dit nie julle sondige drange wat julle ledemate soos soldate gebruik om te veg nie?” Jakobus het geweet, Paulus het geweet en ek en jy weet dat ons feitlik ons hele lewe lank dinge doen wat ons in konflik of in stryd of in die moeilikheid met ander mense en ook met God bring. Ons hoef nie ’n kursus te loop om dit reg te kry nie, ons het van nature ’n Doktors graad daarin. Ons word gebore met ’n sondige natuur wat nie kan doen wat reg is nie en wat God vra nie. As ons hard probeer mag ons dit dalk 1% van die tyd regkry maar dan is dit net omdat die omstandighede gunstig was.
Kom ons lees die res van hierdie gedeelte in Jakobus 4 tot en met vers 10... “2 Julle wil dinge hê wat julle nie het nie, en pleeg dan moord om dit te kry. Julle is jaloers oor wat ander het, en as julle dit nie in die hande kan kry nie, veg en baklei julle om dit by hulle te vat. En eintlik is die rede hoekom julle nie het wat julle wil hê nie, die feit dat julle God nie daarvoor vra nie. 3 En selfs wanneer julle vra, kry julle dit nie omdat julle motiewe verkeerd is – julle wil goed hê net om dit self te geniet. 4 In julle huweliksverhouding met God is julle ontrou! Besef julle nie dat vriendskap met die wêreld jou ’n vyand van God maak nie? Hoor wat ek sê: As jy die wêreld tevrede wil stel, het jy klaar as vyand teen God stelling ingeneem. 5 Of dink julle dat die Skrif sommer maar net sê: “God wil die lewe wat Hy ons gee, nét vir Homself hê”? 6 God is egter besig om ons steeds meer genade te gee om aan Hom getrou te wees. Daarom sê die Skrif: “God weerstaan hoogmoedige mense, maar aan nederige mense gee Hy genade.” 7 Wys dus dat julle van God afhanklik is deur na Hom te luister (Onderwerp julle dan aan God – Afr. 53). Weerstaan die duiwel en hy sal van julle af wegvlug. 8 Kom nader aan God, en Hy sal nader aan julle kom. Was julle hande van die sonde wat daaraan kleef, julle sondaars, maak julle harte skoon, julle tweegesigte wat nie kan besluit aan wie julle getrou wil wees nie. 9 Trane moet wys julle is jammer oor die verkeerde goed wat julle aangevang het! Treur en huil! Julle gelag moet in droefheid verander, en julle blydskap in bedruktheid! 10 Val voor die Here neer en wys dat julle van Hom afhanklik is, en Hy sal julle optel en aan julle aansien gee.”
Ons sien hier in hierdie gedeelte en in Rom. 6:19; Rom. 7:5 & Rom. 8:6-8 dat daar ’n kontras maar ook ’n konflik is tussen wat ons van nature wil doen en dit wat ons kán doen wanneer ons tot wedergeboorte gekom het. Die Bybel praat daarvan as om ’n “goddelike natuur” te kry (2 Pet. 1:4). Dit kom weereens terug na die keuses wat ons het. Ons kan kies of ons die duiwel gaan toelaat of God gaan toelaat om vir ons voor te skryf hoe ons moet optree. Ons moet dus kante kies, die een of die ander een. Ons kan ongelukkig nie neutraal bly nie. Die ding is nou, die duiwel is teen God en is Sy vyand en wanneer jy vir die duiwel kies dan word jy ook God se vyand en dan is God teen jou. En dít is nie ’n goeie ding nie, want die duiwel is altyd aan die verloorkant. Hy is nie teen God opgewasse nie maar hy wil ons laat dink dat ons op ons eie ’n kans staan teen God, dat ons ons eie geluk kan skep. Die Bybel noem dit hoogmoedigheid en Jakobus sê dat God hoogmoedige mense teenstaan. Maar as jy toelaat die God jou voorskryf hoe om te leef en jy is Hom gehoorsaam dan wys jy jou nederigheid en onderdanigheid en dan kom God vir jou op en maak jou belangrik.
Dis so eenvoudig soos dit, of jý gaan jouself laat probeer belangrik lyk en God gaan jou op jou plek sit, of jy gaan teen die duiwel opstaan en God gaan agter jou staan en vir jou veg en jou dan nog boonop beloon vir die oorwinning. Hoe langer jy die duiwel gaan verdedig deur aan sy kant te wees en te doen wat hy wil hê (jou sondige begeertes te bevredig en te doen wat vir jóú belangrik is), hoe langer gaan jy God teen jou hê. Aan die ander kant, hoe vinniger jy teen die duiwel opstaan en sy tjank vir hom af te trap, hoe vinniger gaan jy God aan jou kant hê. Vir wie sê jy vandag “Nee”?
Jy weet wat die regte ding is. Jy weet wat jy veronderstel is om te doen. Jy weet hoe jy jou werkers moet behandel. Jy weet of jy iemand inloop of ingeloop het met besigheid. Jy weet of jy valse gerugte oor iemand versprei het. Jy weet wanneer jy net “spiteful” optree om ’n punt te bewys. Jy weet wanneer jy iemand nie vergewe het nie en met ’n wrok in jou hart teenoor daardie persoon rondloop. Jy weet jy kan nie meer vuil grappe vertel nie. Jy weet jy moet ophou drugs gebruik. Jy weet as jy laks geraak het in jou toewyding aan die Here. Jy weet wanneer jy jou verantwoordelikheid teenoor die gemeente as die liggaam van die Here nie nakom nie. Jy weet wanneer jy jou 10de terughou. Jy weet... want jy het al baie gehoor wat reg is en wat nie. Die vraag is, “Wat doen jy met wat jy weet”? Gaan jy die regte ding doen of gaan jy “Nee” sê vir God. Gaan jy die duiwel se tjank aftrap wanneer hy met allerhande slim argument kom van hoekom jy nie die regte ding moet doen nie of gaan jy kop in een mus met hom wees?
God is reg en gretig om sy genade uit te deel, maar alleen aan hulle wat bereid is om “ja” te sê vir Hom. As jy “ja” sê vir die duiwel dan word jy ’n vyand van God. Gal 6:7 & 8 sê “Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat 'n mens saai, dit sal hy ook oes. Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes.”
Die duiwel het niks om jou te offer nie, so “ditch” hom. Trap sy tjank af. Stuur hom in sy kanon in. En onthou, God soek net ’n gebroke hart wat jammer is oor die verkeerde en wat gedetermineerd is om die regte dinge te doen. Wanneer Hy só persoon kry, dan is Hy genadig met hom/haar, vergewe hulle en herstel weer Sy verhouding met hulle. Hulle status verander dan van vyand na vriend toe.
As jy reg is om dit te doen, dan wil ek jou vra om ernstig te raak met God. Sê vir Hom jy is jammer en wys dit deur te doen wat reg is, selfs as dit moeilik is. Daar sal altyd innerlike konflik wees maar God het gesê dat daardie konflik nooit meer sal wees as wat jy kan “handle” nie. So handle dit en heers daaroor. God het vir Kain in Gen. 4:7 gesê “Waarom is jy kwaad? Waarom is jy bedruk? Wag daar nie vir jou blydskap as jy goed doen nie? As jy nie goed doen nie – die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy moet oor hom heers.” Nou sê God vir jou in Jak. 4:7 “Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.”
Sê NEE vir die duiwel,... & sê JA, vir God.
Sê JA vir die één wat Sy lewe vir jou afgelê het en 'n plek in die Vader se teenwoordigheid vir jou verdien het. Hy verdien jou ALLES. Jou respek, jou lojaliteit en gehoorsaamheid.
Amen.