Die vrees van die Here
’n Ware “Cosmopolitan” Bruid
Die vrees van die Here
Spr. 2:1-9 (AOV – v.4/NLV); Lev. 19:11-18 (NLV); Deut. 8:1-6; Matt. 10:28; Jak. 3:13-17; 2 Kor. 6:16 - 7:1
Ek wil vanoggend aansluit by Past. Louis se boodskap oor die visioen wat die Here hom gegee het aangaande die kerk in die laaste dae.
1. Woestyn met waterputte wat gaan oopbars - “Ek (God) bring moeilikheid in my kerk in om die wêreld uit my kerk uit te vat sodat sy kan staan voor my as ’n heilige bruid wat water kan gee vir hulle wat dors het.” Die kerk gaan weer ’n lafenis wees vir die wêreld daar buite.
2. Die jong vrou wat veelvuldige geboortes gee – “Dis wat Ek met my kerk gaan doen in die laaste dae. Sy gaan jonk in gees wees, jonk in verhouding’ jonk in salwing want Ek gaan iets nuuts doen... en sy gaan nuwe geboorte voortbring in die wêreld.”
3. Tornado en orkaan wat deur die dorp gaan – Die tornado het al die gemors en vuilgoed opgetel en weggevat maar die dorp het bly staan maar dit was skoon. “Ek gaan my bruid kom skoonmaak in die laaste dae, want my bruid kan nie met gemors en hick-ups en sonde sit nie, want ek soek ’n heilige rein bruid. Maar ek gaan dit doen. Ek moet die wêreld uit jou uitkry. Ek moet jóú manier en jóú tradisies waaraan jy vasgehou het en hoe jý dinge wil doen wegvat, sodat ek iets met jou kan doen.
4. Gewapende mans wat die kerk en almal daarin aan die brand steek maar niemand het iets oorgekom nie omdat almal saam gebid het – “In die laaste dae as die moeilikheid gaan kom gaan ek my kerk bewaar en beskerm. Daar gaan mense wees wat wil hol, wat wil moed opgee. Moenie.”
Ons het nou gehoor wat die Here met sy kerk, sy bruid, wil en gaan doen. Nou moet ons onsself die vraag afvra “Hoe gaan ek deel wees daarvan?” “Wat moet ek doen om in te pas by daardie beeld?”
Toe ek hieroor gedink en gebid het, het ek besef dat daar nie net één “magical” oplossing is nie. Dis ’n proses waardeur die Here ons gaan vat en waarin ons geoefen moet word en waarin ons bekwaam in moet raak. Daarom het ek besluit om die titel van die titel van hierdie reeks te maak “’n Ware “Cosmopolitan” Bruid”. Cosmopolitan = cosmos (Gr.) – heelal + polites (Gr.) – burgers. En die eerste stap tot hierdie proses is ’n begeerte na weidsheid.
Ek en jy sal moet WIL WEET hoe God wil hê ons moet leef. Die ou mense het ’n manier gehad om die kinders te help weet wat reg is. Hulle het ’n spreekwoord gebruik wat dit baie mooi opsom “As jy nie wil hoor nie moet jy.... VOEL!” Hoekom het “voel” kinders gehelp “luister”? Want “voel” het aan jou lyf gevat. “Voel” was seer. “Voel” het adrenalien afgeskei wat die sintuie baie beter laat werk het.
Kyk gou hierna (Lion Charge)
As jy hierna gekyk het, of as jy op daardie “Game Viewer” voertuig was en jou pa het vir ou gesê “Jannie (Joe), moenie van hierdie voertuig af afklim nie” dan het jy geweet hoekom jy dit nie moet doen nie en dan het jy geluister. En as jy geluister het, dan het jy later middagete geëet, jy was nie die middagete gewees nie. Maar het jy al gesien hoe mense hulle hulle sin vir vrees verloor op sekere stadiums van hulle lewe. Dit gebeur tussen 15 en 23 jaar en dan weer so tussen 24 en 70 jaar. Salomo skryf aan sy seun, van die begin van Spreuke af en probeer hom waarsku om wys te wees en nie sy sin vir die vrees van die Here te verloor nie. Ons het dit so afgewater dat ons deesdae praat van die “respek” vir die Here, maar die Bybel wou dit baie duidelik maak dat dit meer is as net respek is. Ons moet weet dat daar ’n “voel” komponent betrokke is aan die “vrees” van die Here as ons dit minag.
Die Hebreeuse woord wat vir vrees gebruik word, is ירא. Tog is hierdie nie 'n vrees vir iemand wat 'n tiran is en daarop uit is om jou skade aan te rig nie. Nee, God is liefde, en daardie liefde wil beskerm en soms beteken dit kastyding (of soos hulle in die ou tyd gesê het “Sip-Sop en brand-boude”). God is getrou aan homself ten opsigte van sy liefde en genade maar ook ten opsigte van sy geregtigheid wat nie 'n blinde oog sal hou vir onreg nie.
Kom ons lees wat staan in Spr. 2:1-9.
As ons die vrees van die Here in ons lewens het dan sal ons nie meer gemors in ons lewe toelaat nie. Ons sal weet dat as ons dinge doen wat teen God se wette en bevele gaan dan gaan daar gevolge wees. Dalk nie onmiddellik nie, maar dit kom. Dis hoekom die Here in daardie visioen van Louis gesê het dat die tornado sal kom en al die gemors uit die kerk uit haal. Die Here het nie verander nie. Hy is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. Ons lewens is soos die gras en die blomme van die veld vandag daar en môre is dit weg maar die Woord van die Here sal tot in ewigheid toe bly. God het sy wette vir Israel gegee sodat hulle bo al die ander nasies moes uitstaan as ’n volk wie se God direk met hulle gesels en wie se wette uitstaan bo al die ander. Dinge het nie verander nie. Al wat gebeur het, is dat God Sy invloed groter gemaak het van een volk af na sy kerk toe waar die wêreld moes sien dat ons God direk met ons praat deur die Heilige Gees en dat ons wette nóg meer uitstaan bo die wêreld se standaard.
Kyk wat se God vir Israel in Levitikus 19 hoe vrees vir Hom hulle sou help om reg te leef (Lev. 19: 11-18)
Is hierdie nie die tipe voorbeeld wat die wêreld by die kerk soek maar nie kry nie? Is dit nie dalk die droogte wat in die kerk is wat die Here van gepraat het nie? Is dit nie dalk die gemors wat die Here uit die kerk uitgaan verwyder nie? As daar weer opnuut ’n vrees van die Here in die kerk is dan gaan hierdie optrede van wat ons moet doen weer gebeur en dán gaan die kerk strome van lewende waters wees. Die voorskrifte van hoe om te leef gaan baie vêrder as net hierdie paar verse, maar as ons maak soos wat Salomo vir sy seun gesê het, dan sal ons tyd maak om te soek hoe ons moet leef en wat reg is. Daardie “jong vrou wat nuwe energie het om herhaaldelik geboorte te gee” klink soos Jesaja 40:31 wat sê “Die wat op die Here wag kry nuwe krag;... hulle hardloop en word nie moeg nie.”
Daar is nog baie ander tekste wat hieroor praat wat ek graag sal wil hê jy na moet gaan kyk maar terwille van ons tyd gaan ek net die verwysings gee. Jy kan dit self gaan opsoek en by die huis lees. Hulle is Deut. 8:1-6; 2 Kor. 6:16 - 7:1.
Ek wil afsluit met hierdie twee gedeeltes in die Nuwe Testament; Matt. 10:28 & Jak. 3:13-17. As jy gedink het God is nie meer so ernstig oor die vrees van die Here nie luister dan hierna “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.” (Mt. 10:28). Onthou gou weer daardie video clip van die leeu... as jy jou vrees verloor gaan die leeu jou opvreet en gaan jy middagete word.
Waar daar nie ’n vrees vir die Here is nie is daar ook nie weidsheid nie en dan lyk dinge so... “13 Aangesien julle wys is en verstaan wat God wil hê, moet julle sorg dat julle leefstyl goed is. Julle wysheid moet juis in nederige gedrag sigbaar word. 14 As julle bitter jaloers is en selfsugtige ambisie in julle harte het, moenie dan spog dat julle wysheid het nie. Dis om teen die waarheid in te lieg! 15 Jaloesie en selfsug is nie wysheid wat van God af kom nie. Dit is eerder aards, tipies van iemand se sondige natuur. Eintlik is dit demonies, 16 want waar jaloesie en selfsugtige ambisie is, dáár sal jy ook wanorde en allerhande gemene dade kry. 17 Maar die wysheid wat van Bo kom, is in die eerste plek suiwer. Verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam. Dit is bereid om ontferming te betoon, en het goeie gevolge. Dit diskrimineer nooit en is altyd opreg.”
Vrees jy die Here of het jy dalk jou sin vir vrees verloor? Is daar gemors en drek en sonde in jou lewe wat die Here moet uithaal en verwyder? Lyk jou optrede anders as die wêreld s’n sodat hulle sal smag na wat jy het, of is jy so droog dat hulle niks “nuuts” en vars by jou sien nie en dors van jou af weggaan? Kan mense iets anders in Mariepskop Bediening sien? Is ons die tipe bruid wat haarself gereed gemaak het en mooigemaak het vir die bruidegom (Jesus)?
Ek kan jou nie maak die Here vrees nie, maar ek kan jou waarsku teen die gevolge en ek kan jou wys wat die voordele daarvan is. Jesus gaan terugkom vir ’n bruid wat rein en heilig is en wat vasstaan en doen wat goed is al is daar moeilike tye en tye van vervolging. Ek weet nie van jou nie, maar ek wil nie alleen gereed wees as Jesus kom nie, ek is gereed. Soms kom daar nog gemors op my, maar dan deel ek dadelik daarmee. Ek speel nie meer in die modder nie, want ek het geleer dat as ek my sin vir vrees vir God verloor dan is daar gevolge. Maar meer as dit, my vrees vir God het begin by Sy liefde vir my. Hy het my met sy liefde aangeraak en met sy liefde verander. Nou is dit my liefde vir Hom wat my motiveer om Hom te vrees en ’n begeerte te hê na wysheid.
Vrees jy God genoeg om heilig te lewe of het jy net respek vir Hom?
“Maar aan die mens het Hy gesê: Kyk, die vrees van die Here is wysheid; en om van die kwaad af te wyk, is verstand.”
(Job 28:28)
AMEN!