Eerste Gebod
Die Eerste Gebod
Inleiding:
2.5.1 Die indeling in gebooie
In navolging van Augustinus het die Roomse Kerk en ook Luther die eerste twee gebooie saamgevoeg en dit as een gebod beskou. Om weer by die getal tien uit te kom, het hulle die negende gebod (volgens hulle siening) in twee verdeel. Maar oor die wyse waarop hierdie negende gebod in twee verdeel moes word, het die Roomse Kerk en Luther van mekaar verskil. (Vgl. Douma, 1987:126).
Die Roomse Kerk het die verdeling gemaak op grond van die weergawe van die Dekaloog in Deuteronomium 5. Volgens hulle weergawe lui die negende gebod: “Jy mag nie iemand anders se vrou begeer nie”, en die tiende gebod: “Jy mag nie sy huis begeer nie, ook nie sy grond…”.
Luther het weer die verdeling gemaak op grond van die weergawe van die Dekaloog in Eksodus 20. Volgens hom lui die negende gebod: “Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie,” en die tiende gebod: “Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin…”
Sowel die Roomse Kerk as die Lutherse Kerk het hulleself deur hulle indelings voor onoplosbare probleme geplaas. Die Roomse Kerk kan nie verklaar waarom die naaste se huis in Eksodus 20 eerste genoem word nie. Op hulle beurt kan die Lutherse Kerk weer nie verklaar waarom die naaste se vrou in Deuteronomium 5 eerste genoem word nie. Daardeur is dit reeds duidelik dat hulle indelings kunsmatig en ongegrond is. Bowendien behandel sowel die Roomse Kerk as die Lutherse Kerk “hulle” onderskeie negende- en tiende gebod dikwels as één onderwerp (Douma, 1987:126).
Die indeling van sowel die Roomse Kerk as die Lutherse Kerk moet afgewys word. Die eerste- en tweede gebod wat hulle as één beskou, handel sonder enige twyfel oor twee sake: die eerste handel oor die God wat gedien moet word, en die tweede oor die wyse waarop dié God gedien moet word. Daarteenoor handel die tiende gebod, wat deur hulle in twee gebooie verdeel word, slegs oor één saak, naamlik die sondige begeertes van die mens, ongeag of dié begeerte op die vrou van die naaste of op die besitting van die naaste gerig is.
Dat die tiende gebod in sowel Eksodus 20:17 as in Deuteronomium 5:21 ’n eenheid vorm wat nie in twee verdeel moet word nie, blyk ook daaruit dat dit minstens twee maal in die Nuwe Testament aangehaal word bloot as: “Jy mag nie begeer nie,” sonder vermelding van enige voorwerp van die sondige begeerte (Rom 7:7; 13:9).
2.5.2 Die indeling in tafels (groepe)
Die Tien Gebooie kan in twee groepe ingedeel word:
* in die eerste tafel (groep) is die eerste vier gebooie en daarin word die mens se verhouding tot God gereël;
* in die tweede tafel (groep) is die laaste ses gebooie en daarin word die mens se verhouding tot sy medemens gereël (Heid. Kat. vr. en antw. 93).
Die onderhouding van die gebooie in albei tafels is van die allergrootste belang.
As die mens se verhouding tot God nie reg is nie, kan sy verhouding tot sy medemens nooit werklik reg wees nie. In die verhouding tot sy medemens word ’n persoon se verhouding tot God geopenbaar. Aan die ander kant, as ’n persoon nie erns maak met die gebooie in die tweede tafel nie, doen hy nie net mense ’n onreg aan nie, maar staan hy ook skuldig voor God. Trouens, ook hierdie gebooie is deur God gegee en God eis van die mens om daaraan gehoorsaam te wees.
[1]
3.1.1 Ander gode
Deur hierdie uitdrukking word nie geïnsinueer dat ander gode werklik bestaan nie. Hier word slegs verwys na die afgode wat die mense in hulle dwaasheid vir hulleself maak en met God gelykstel. Die Bybel leer baie duidelik dat daar maar net één God is, en dit is die Here: “Luister Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here” (Deut 6:4).
[2]
3.2 DIE BESONDERE PLEK VAN DIE EERSTE GEBOD IN DIE DEKALOOG
Waarom staan die eerste gebod eerste? Waarom begin die Dekaloog met hierdie gebod?
Omdat die eerste gebod so ’n sentrale en beheersende posisie in die Tien Gebooie en in die godsdienstige lewe van die Christen inneem dat dit inderdaad as die belangrikste gebod beskou kan word.
Dit is ook voor die hand liggend: as die eerste gebod wegval of verander word, verloor al die ander gebooie hulle waarde. As die Christen toegelaat word om ander gode te dien, het die verbod op die maak van beelde van God of die onderhouding van die rusdag tot sy eer geen betekenis meer nie.
Omgekeerd kan gesê word dat die mens die ander nege gebooie slegs sal oortree as hy nie voldoende erns maak met die eerste gebod nie; as sy verhouding tot God nie reg is nie; as God nie die een en die al in sy lewe is nie. Die eerste gebod lê dus die grondslag vir alle godsdiens en sedelikheid. Dit is die diepste motief vir die vervulling van al die ander gebooie.
[3]
3.3 DIE GESINDHEID VAN DIE HART
By gehoorsaamheid aan die eerste gebod is die gesindheid van die hart van deurslaggewende betekenis en nie uitwendige handelinge nie. As die gesindheid van die hart reg is, sal dit in die uitwendige handelinge tot openbaring kom. As die gesindheid van die hart nie reg is nie, het uitwendige “godsdienstige” handelinge geen waarde nie, want dan is dit niks anders nie as skynvroomheid en vormgodsdiens en die Here haat dit (Jes 1).
[4]
3.5 DIE VERBOD
3.5.1 Afgodery
3.5.1.1 Wat afgodery is
Afgodery beteken om in die plek van die ware God of naas Hom iets anders te hê waarop die mens sy vertroue stel vir die verkryging van hulp, krag, vreugde, geluk, voorspoed, ensovoorts.
Die grondbetekenis van die woord vir afgod is valse god of leuengod. Dit kom daarop neer dat iets tot ’n god verhef word wat nie werklik ’n god is nie, maar hoogstens ’n valse god.
By die ou heidendom was daar ’n growwe afgodery gevind. In plaas van God is mensgemaakte gode soos Baäl, Astarte, Dagon, Bel, Nebo, ensovoorts gedien. Dit is ’n openlike breuk met die ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar het.
By die moderne heidendom word ’n minder openlike, maar meer geraffineerde vorm van afgodery aangetref. In hoofsaak kom dit neer op mensaanbidding en stofaanbidding. Mensaanbidding word aangetref waar daar bykans goddelike eer gegee word aan sekere mense soos sporthelde, filmsterre, politieke leiers, ensovoorts. ’n Bybelse voorbeeld daarvan is Herodes. Nadat hy opgetree het, het die mense geskreeu: “Dit is ’n god wat praat, nie ’n mens nie!” (Hand 12:22). In dié tyd is ook die keiser as god vereer. Stofaanbidding word aangetref by materialisme, Mammondiens (die verheffing van geld tot god), sportaanbidding (by mense wat eerder liefde vir genot het as liefde vir God—2 Tim 3:4), ensovoorts.
Hierdie afgodery sal uiteindelik uitloop op die verering van die Antichris as god kort voor die wederkoms van Christus (2 Tess 2:1–12).
[5]
3.6 DIE GEBOD
Wat die positiewe deel van die eerste gebod behels, word duidelik in die Heidelbergse Kategismus (antw. 94) aangetoon: “Ek moet die enige ware God reg leer ken, Hom alleen vertrou, my slegs aan Hom met alle nederigheid en geduld onderwerp en van Hom alleen alle goeie dinge verwag. Ek moet Hom met my hele hart liefhê, vrees en eer. Sodoende sien ek eerder van alle skepsels af as om in die minste teen sy wil te handel”.
Uit hierdie antwoord, en in die besonder die gekursiveerde woorde daarin, is dit baie duidelik dat God eksklusief en alleen as God gedien en geëer mag word. Aan niks en niemand anders mag enige goddelike eer bewys word nie.
Die gebod hou in dat die mens die enige, ware God met oorgegewenheid van hart moet liefhê en dien. Om dit te kan doen is die volgende nodig:
1. Die mens moet Hom reg ken uit sy Woord (Joh 17:3), want as die mens Hom nie reg ken nie, sal hy nie weet wie Hy werklik is en hoe hy Hom moet dien en eer nie.
2. Die mens moet op Hom alleen vertrou (Jer 17:5,7) en nie sy vertroue stel op geld, mense, sy eie verstand of bekwaamheid, ensovoorts nie. Van Hom alleen moet hy alles wat God is verwag (Ps 37:5).
3. Die mens moet Hom liefhê met sy hele hart, siel, verstand en al sy kragte (Matt 22:37).
4. Die mens moet oral en altyd sy wil doen (Luk 8:21) en sy eie wil en begeertes en die van ander mense aan God se wil en gebooie onderwerp (Matt 10:37).
[6]
----
[1]De Bruyn, P. J. (1997, c1993). Die Tien Gebooie. Midrand: Varia Uitgewers.
[2]De Bruyn, P. J. (1997, c1993). Die Tien Gebooie. Midrand: Varia Uitgewers.
[3]De Bruyn, P. J. (1997, c1993). Die Tien Gebooie. Midrand: Varia Uitgewers.
[4]De Bruyn, P. J. (1997, c1993). Die Tien Gebooie. Midrand: Varia Uitgewers.
[5]De Bruyn, P. J. (1997, c1993). Die Tien Gebooie. Midrand: Varia Uitgewers.
[6]De Bruyn, P. J. (1997, c1993). Die Tien Gebooie. Midrand: Varia Uitgewers.
