HOEKOM SAL EK DAN NOG WAG TOTDAT DIE HERE IETS DOEN OM ONS TE HELP
Sermon • Submitted
0 ratings
· 13 viewsNotes
Transcript
Hoekom sal ek dan nog wag totdat die Here iets doen om ons te help
2 konings 6:24–33 (Die Lewende Bybel)
24 Later het koning Benhadad van Sirië sy hele leër bymekaargemaak om teen Samaria te gaan veg. Hy het die stad beleër
25 totdat daar ’n verskriklike hongersnood in die stad was. Kos het so skaars geword dat ’n donkie se kop vir tagtig stukke silwer verkoop is, en driehonderd gram duiwemis vir vyf stukke silwer.
26 Toe die koning van Israel in daardie tyd eendag op die stadsmuur langs loop, roep ’n vrou na hom: “U Majesteit, help my tog asseblief!”
27 Maar die koning antwoord: “As die Here jou nie help nie, hoe sal ek jou kan help? Ek het tog nie graan of wyn wat ek jou kan gee nie.
28 Maar wat is jou probleem?” Sy sê toe: “Hierdie vrou wat hier by my is, het ’n paar dae gelede voorgestel dat ons my kind moet slag en eet en dan kon ons die volgende dag weer haar kind eet.
29 Ons het toe my kind gaargemaak en geëet, maar die volgende dag toe ek sê sy moet nou haar kind gee dat ons hom ook kan slag en eet het sy haar kind weggesteek.”
30 Toe die koning hoor wat die vrou sê, het hy sy klere geskeur van ontsteltenis terwyl hy op die muur verbyloop. Die mense het gesien dat hy ’n growwe roukleed onder sy klere aan het.
31 Toe sê die koning: “Mag God my straf as ek nie voor vanaand nog Elisa die seun van Safat se kop laat afkap nie.”
32 Elisa het in sy huis gesit, en daar was van die stad se leiers by hom. Nog voor die koning se boodskapper by hulle aangekom het, sê Elisa vir die leiers: “Daardie moordenaar het iemand gestuur om my kop af te kap. As hy by die deur kom, hou dan die deur toe en hou hom buite, want die koning is self ook kort agter hom.”
33 Elisa was nog aan die praat, toe kom die koning self daar aan en sê: “Dit is die Here wat hierdie ellende oor ons laat kom het. Hoekom sal ek dan nog wag totdat die Here iets doen om ons te help?”
2 Konings 7 (Die Lewende Bybel)
1 Maar Elisa sê vir die koning: “Hoor nou wat die Here sê. Hy sê môre teen hierdie tyd sal ’n mens by Samaria se poort ’n maatbak fynmeel vir net een stuk silwer kan koop en twee maatbakke gars ook vir een stuk silwer.”
2 Die koning se lyfwag sê vir Elisa: “Dis onmoontlik. Al sou die Here self vensters in die hemel maak, kan dit nie gebeur nie.” Elisa antwoord: “Jy sal sien hoe dit gebeur, maar jy sal self niks van daardie kos eet nie.”
3 Net buite die stadspoort was daar vier melaatse manne. Hulle het die toestand bespreek en gesê: “Hoekom sal ons hier bly sit tot ons dood is?
4 As ons in die stad ingaan, sal ons daar doodgaan, want die hongersnood is verskriklik. En as ons hier bly, is ons ook dood. Kom ons gaan liewer na die Siriërs se kamp toe. As hulle ons doodmaak, is ons in elk geval ook dood, maar as hulle ons lewe sou spaar, dan leef ons tog.”
5 Teen skemeraand gaan hulle toe na die Siriese kamp toe, maar toe hulle aan die kant van die laer kom, besef hulle skielik daar is nie ’n mens in die hele kamp nie!
6 Wat gebeur het, was dat die Here vir die Siriërs die gedreun laat hoor het van ’n verskriklike groot leër wat aankom met oorlogswaens en perde. Hulle sê toe vir mekaar: “Dit moet die konings van die Hetiete en van Egipte wees wat daar aankom! Die Israelitiese koning het hulle seker gehuur om teen ons te kom veg. “
7 Hulle los toe die hele kamp net so en vlug in die skemer weg. Hulle tente en perde en donkies het alles agtergebly, want hulle het gedink hulle vlug vir hulle lewe.
8 Toe daardie melaatses dan by die kamp aankom, het hulle by die eerste tent ingegaan en geëet en gedrink wat hulle daar kon kry. Hulle vat toe die silwer en goud en klere wat daar in die tent was en gaan steek dit weg. Hulle kom toe terug en gaan in ’n tweede tent in en dra die goed wat daarin was weg om dit te gaan wegsteek.
9 Maar hulle begin toe met mekaar oor die saak praat en sê: “Ons maak nie nou reg nie. Hier het iets gebeur wat verskriklik belangrik is, en ons vertel nie die mense daarvan nie. As ons stilbly tot môre-oggend sal ons gestraf word. Ons moet die koning daarvan gaan vertel.”
10 Toe gaan hulle tot by die stad en roep na die wagte by die poort en sê vir hulle: “Ons was nou net by die Siriërs se kamp, en daar is nie ’n mens te sien of te hoor nie, maar hulle perde en donkies staan nog daar vasgemaak en hulle tente staan ook nog net soos hulle was.”
11 Die wagte versprei toe die nuus en gaan vertel dit ook in die koning se paleis.
12 Die koning staan toe in die nag op en sê vir sy amptenare: “Ek sal julle sê wat die Siriërs se plan is. Hulle weet ons is dood van die honger en daarom het hulle padgegee uit hulle kamp uit en in die oop veld gaan wegkruip. Hulle wag net tot ons uit die stad uit kom sodat hulle ons lewendig kan vang en die stad kan inneem.”
13 Een van sy amptenare sê toe: “Kom ons vat vyf van die perde wat ons nog oor het om te gaan kyk wat gebeur het. Hulle kan tog nie iets erger oorkom as die groot klomp wat ons reeds verloor het nie. Ons kan dit net so wel waag.”
14 Hulle span toe perde voor twee oorlogswaens in en die koning stuur hulle agter die Siriese leër aan om te gaan kyk.
15 Die manne is agter die Siriërs aan tot by die Jordaan. En orals langs die pad het klere en wapens gelê wat die Siriërs weggegooi het soos hulle in paniek gevlug het. Die manne draai toe om en gaan rapporteer aan die koning wat hulle gesien het.
16 Toe storm die volk uit die stad uit om die Siriese kamp te gaan plunder. En so het dit gebeur dat ’n maatbak fynmeel vir net een stuk silwer verkoop is, en twee maatbakke gars ook, net soos die Here vooraf gesê het.
17 Die koning het die offisier wat sy lyfwag was, beveel om by die poort toesig te hou, maar daar was so ’n gedrang dat hy deur die mense daar in die poort platgeloop en doodgetrap is soos die profeet voorspel het toe die koning met hom kom praat het.
18 Elisa het mos vantevore vir die koning gesê: “Môre teen hierdie tyd sal twee maatbakke gars in die poort van Samaria vir een stuk silwer verkoop word, en ’n maatbak fynmeel ook vir dieselfde prys.”
19 Die lyfwag se antwoord was toe: “Dis onmoontlik. Al sou die Here self vensters in die hemel maak, kan dit nie gebeur nie.” En Elisa het toe vir hom gesê: “Jy sal sien hoe dit gebeur, maar jy sal self niks van daardie kos eet nie.”
20 Dit het werklik ook so gebeur, want die mense het hom daar in die poort platgeloop en doodgetrap