Pak lig en geniet die uitsig.
Pak lig en geniet die uitsig.
Matteus 11:28-30
Soos wat ’n mens ouer word verander jou opinie van baie dinge. Ek was vroeër (en dalk is ek nog ’n bietjie so en dalk selfs meer as wat ek dink) geneig om, as ons met vakansie gaan, in die kar te klim en te ry sodat ons by ons bestemming kan uitkom. Daar was niks van op pad soontoe by plekkies stop en uitklim en rondkyk nie. Vir my het die vakansie begin as ons by ons vakansiehuis aangekom het en alles is afgelaai.
En moenie my “judge” nie, baie van julle is ook so 😊... My skoonpa is ’n maand terug oorlede en een van die dinge wat ek van hom sal onthou is dat hy altyd as hy hoor ons ry iewers heen vir my sou vra of ek die “tyres” gepomp het, gekyk het dat die spaarwiel nog reg is, die water en die olie ge-check het en of ek seker is die “jack” is ingepak en daar is ’n kan water in die “boot”. En moet hom nie judge nie, baie van julle is ook so, of is besig om so te word 😊.
Hoekom het hy dit vir ons gesê? Want hy wou nie gehad het ons moes probleme met die kar kry en langs die pad gaan staan het nie. Het jy al gery en as jy weer kyk dan is die temperatuurmeter in die rooi? Dis nie ’n aangename gevoel nie. Eers wag jy dat die kar ’n bietjie afkoel en dan hoop jy ’n barmhartige Samaritaan het vir jou ’n 2l water wat jy kan ingooi (dis nou as jy nie die ekstra kan water in die boot het nie 😊). Daarna ry jy 30km/h en hou heeltyd een oog op die temperatuurmeter en jou ander oog op ’n plaasdam waar jy jou waterkan kan volmaak terwyl jy bid dat die volgende vulstasie of dorp net om die volgende draai is. Om so te ry is stresvol en maak dat jy dikwels geïrriteerd is en verder ook niks van die mooi rondom jou raaksien nie. Dit is onaangenaam vir jou en almal wat saam met jou in die kar is.
Baie keer pak ons die lewe so aan. Ons ignoreer die Vader, wat op baie maniere ons probeer waarsku, se instruksies. Ons is so gejaagd om die daaglikse dinge wat gedoen moet word te begin en net alles afgehandel te kry dat ons nie tyd vat om die “pre flight inspeksie” te doen en te check dat alles in orde is nie. En op ’n dag gebeur die onafwendbare; ons kry moeilikheid. Waar begin die moeilikheidmaker sy aanslag gewoonlik eerste? In die huisgesin. Jou huwelik kom in die slag. Julle baklei soos kat en hond en omdat ons nie geleer het hoe om ons lewens vir mekaar af te lê nie veg ons tot die bloed spat of iemand handdoek ingooi. Niemand wen nie. Al wat jy het, is ’n paar verloorders en een van hulle voel hy/sy is die grootste verloorder.
As dit nie die huwelik is nie dan is dit jy en jou kinders wat al hoe vêrder uitmekaar uit dryf omdat jy nie tyd gemaak het om verhouding met hulle te bou nie. Dissipline het in die vorm van gil en skreeu gekom of in dreigemente wat nooit uitgevoer is nie, of dalk die ergste, in die vorm van een of ander omkopery omdat jy nie die tyd of energie gehad het om hulle deur jou voorbeeld te leer wat reg is nie en om goddelike waardes en dissiplines vas te lê nie. Dan raak dinge net buite beheer.
Die lys van probleme is legio en dit bring soveel pyn en gebrokenheid dat die wêreld al hoe stukkender word en ons tussen al hoe meer stukkende mense leef terwyl onsself dikwels net so gebroke is. Ons word ast’ware oorlaai met probleme. En of dit nie genoeg is nie, dan hou die media en nuus ons nóg besiger met ander se probleme met wie ons eindelik niks mee te doen het nie. En al wat ons doen, is ons wag tot ons probleem ’n bietjie kleiner geword het en ’n vriend of vriendin jou pyn bietjie draagliker gemaak het met hulle menslike, tuisgemaakte boere raad en dan kap ons maar net weer aan. Tyd maak mos alles reg nè? Mmmm. Pleks vat ons maar die tyd om te hoor hoe God sê ons daardie probleme moet “fix”. Ons gaan deur die lewe met die een oog op die probleem (wat nie opgelos is nie) en die ander oog op nog ’n moontlike verdere salfie vir die pyn of bekommernis terwyl ons hoop dat die uitkoms net om die draai sal wees. In die “mean time” maak ons die lewe vir almal rondom ons moeilik want ons is so gefokus op ons eie probleme en ons eie pyn dat ons so onbruikbaar vir die Meester geword het en ook nie die mooi van ander rondom ons kan raaksien nie.
Ek wil jou vra, moenie hierdie jaar ingaan met issues nie, soos byvoorbeeld die las wat jy dra van mense met wie jy nie “eye to eye” kan sien nie omdat hulle iets gedoen het wat jou seergemaak het. Jy voel dalk hulle het jou in die steek gelaat of verraai. Dalk voel jy verwerp omdat hulle iets of iemand anders bo jou gekies het, vir watter rede ook al. Of jy sit dalk in ’n finansiële verknorsing en jy is kwaad vir iemand daaroor. Dit mag wees dat jy selfs jouself of vir God daarvoor blameer. Wat ook al jou issues mag wees, die Here wil nie hê jy moet hierdie nuwe jaar ingaan met al daardie bagasie nie. Hy wil nie hê jy moet net voortstorm om tog maar net by die eindbestemming van jou lewe uit te kom nie. So ’n “rat race” sindroom nie. Ek glo die Here wil hê dat ons by die mooi van lewe sal stop en uitklim en dit geniet.
Kyk wat sê Jesus in Matteus 11:28-30 “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” Die Here wil ons nie vermoei met sy raad en instruksies nie. Hy wil ons eintlik help om op so manier te lewe dat ons dit vir mekaar maklik en aangenaam maak.
Om dit reg te kry, (by die mooi van lewe te stop en uit te klim en dit te geniet), moet jy eerstens ’n ander ingesteldheid tot die lewe kry. Net soos ék doelbewus moes besluit dat die vakansie nie eers begin as ons klaar uitgepak is nie, maar dat dit begin die oomblik as ons wegtrek, net so moet jy doelbewus aanpassings in jóú lewe maak. Om te begin, fokus minder op jou eie probleme en seer en kyk waar kan jy iemand anders se seer of pyn help minder maak. Ons weet mos dat God se manier omgekeerd van die van die wêreld is – gee as jy wil kry; word die minste as jy die meeste wil wees... Dalk is dit juis daardie persoon of persone wat jy voel jou in die steek gelaat het by wie jý moet begin.
Ek dink dit is wat Jesus bedoel het toe hy gesê het “Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg;” (Mat. 5:44) Jesus wou gehad het die wat na hom luister sou leer om doelbewus lief te hê. Hy wil hê ek en jy moet ook doelbewus liefhê. En soos wat hierdie ’n “vreemde” boodskap vir daardie tyd was en dit vereis het dat mense aanpassings (en soms radikale aanpassings) in hulle lewe moes maak, so moet jy ook soms radikale aanpassings maak. Doen “whatever" nodig is om uit te kom by dit wat God van jou vra sodat jy nie langs die pad in die moeilikheid kom en die res van jou reis stresvol en onaangenaam is nie.
As jy nodig het om mense te vergewe, vergewe hulle. As jy nodig het om dinge te gaan uitpraat sodat julle weer op “speaking terms” kan kom, gaan praat dinge uit. As jy nodig het om ’n saak eenvoudig net agter jou te sit en daarvan te vergeet, doen dit. As jy minder dinge moet aanpak omdat jy dit wat belangrik is afskeep, skaal dan af, AL DINK JY DIE WÊRELD GAAN VERGAAN EN SAL NIE SONDER JOU KAN REGKOM NIE!. “News flash”, jy is nie so belangrik nie. Kom oor jouself! Kom eerder by die dinge uit wat wel belangrik is. As jy nodig het om met minder klaar te kom en nie meer te spandeer as wat jy verdien nie, doen dit. As daar sonde in jou lewe is waarmee jy nie klaargekry het nie (hetsy DINGE soos rook of drink of porn, of KARAKTEREIENSKAPPE soos hardkoppigheid of hoogmoed of disrespek of baasspelerigheid of skinder en dalk die ergste een – blindheid vir ons eie foute... weereens, die lys is legio), as daar sulke dinge is, bely dit en kry klaar daarmee. God sal nie ’n lewe van ongeregtigheid seën nie. Hy sal jou tyd gee om te verander, maar op ’n dag dan trek hy ’n streep en dan betaal jy daarvoor. Geskiedenis bewys dit vir ons oor en oor.
As jy die mooi wat God vir elkeen van ons in gedagte het, wil geniet, moet jy die reis met minder bagasie aanpak. Heb. 12:1-2 sê “Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.”
Gooi daardie laste af en vat tyd om te stop, af te klim en te kyk waar kan jy iemand anders se las help dra, want dan gaan húlle die mooi van die lewe begin raaksien en dan word hulle “mooi” ook jou “mooi” en dán begin die lig in die donker wêreld skyn. Dán begin die stukkendheid rondom jou heel word en die pyn, minder. Dán kan jy begin wees en doen wat God vir jou in gedagte gehad het en kan jý ’n verskil in hierdie wêreld maak. Dán kan jy begin om DOELBEWUS lief te hê.
Vat tyd om na God se instruksies vir die lang pad te luister. Maak daardie kopskuif en doen wat gedoen moet word al kos dit ook wat. En pak dan lig, gooi daai laste af en geniet die uitsig op jou reis na die ewigheid.