4de Paastydsondag: Goeie Herder-Sondag Openbaring 7v9tot17
4de Sondag in Paastyd: Goeie Herder Sondag / Jubilate
ORRELSPEL: Engelette Kruger
BEKENDSTELLING: Janus Roux
§ Baie welkom saam met ons in hierdie erediens van die NG Gemeente Elarduspark, Pretoria. Saam met ons as gemeente is jy deel van hierdie eerste van tien erediensgeleenthede wat op ‘n Sondag, van 07:45 tot 18:45 hier by Elarduspark plaasvind.
§ Ons is ‘n voorstedelike korporatiewe gemeente in die ooste van Pretoria, met meer as 5000 ingeskrewe lidmate wat deur 8 voltydse leraars bedien word.
§ As Elarduspark-gemeente wil ons ‘n verskil in ons gemeenskap maak deur God se liefde vir alle mense oor alle grense heen uit te dra waar ons leef, werk en speel en daarom is ons logo: Elarduspark, die gemeente wat omgee!
§ Dit is vir my ‘n voorreg om deel te wees van ‘n dinamiese span leraars, ‘n kerkraad, leierskorps en gewone gemeentelede wat vanoggend saam met jou God Drie-enig aanbid en luister na Sy Woord.
§ Mag hierdie erediens ‘n lewensveranderende ervaring wees en mag God se liefde wat Hy deur Jesus Christus prakties aan ons kom demonstreer het, ‘n konkrete werklikheid word deur die werk van Sy Heilige Gees in die hart en lewe van elkeen wat vanoggend saam met ons aanbid.
GROET: Genade en vrede vir jou – van Hom wat is en wat was en wat kom, ons Vader, en van die Heilige Gees en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die Heerser oor die konings van die aarde.
LIED - Lied 202 ;1-3 Prys Hom die Hemelvors.
ONS GETUIG VAN GOD SE OMGEE VIR ONS
Liturg: Die Here is my Herder...
Gemeente: Daar is niks wat my ontbreek nie.
Liturg: Hy laat my rus in groen weivelde...
Gemeente: ...na waters wat verfris, lei Hy my heen.
Liturg: Hy gee my nuwe krag...
Gemeente: Hy lei my op die pad van geregtigheid tot eer van Sy Naam
Almal: AMEN.
ONS BELY WAT ONS GLO:
Liturg: U Here Jesus Christus, is die goeie Herder.
Gemeente: Die goeie Herder wat Sy lewe offer vir Sy skape.
Liturg: U is die Goeie Herder.
Gemeente: U ken U skape en hulle herken U.
Liturg: U het die volmag om U lewe op te offer en U het die volmag om dit weer op te neem.
Gemeente: Daarom bely ons ons geloof in God die Vader, in Jesus Christus die Here en in die Heilige Gees ons Leier.
LIED: - Ons geloofsbelydenis: vers 6
GEBED:
§ Ons Vader in die hemel, laat U Naam geëer word, laat U koninklike regering sigbaar word, laat U wil op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons asb vandag wat ons vir ons voortbestaan nodig het en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree. Laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen!
SKRIFLESING: Openbaring 7v9tot17 - 9Hierna het ek ’n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle het wit klere aangehad, en daar was palmtakke in hulle hande. 10Hulle het hard uitgeroep: “Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!” 11Al die engele het rondom die troon, die ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan. Hulle het toe voor die troon gekniel met hulle gesigte na die grond toe en het God aanbid 12en gesê: “Amen! Die lof en die heerlikheid, die wysheid, die dank en die eer, die mag en die sterkte behoort aan ons God tot in alle ewigheid. Amen!” 13Een van die ouderlinge vra toe vir my: “Hierdie mense met die wit klere aan, wie is hulle en waar kom hulle vandaan?” 14“Ek weet nie, Meneer,” sê ek vir hom, “maar ú weet.” Hy sê toe vir my: “Dit is dié wat uit die groot verdrukking kom. Hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam. 15Daarom is hulle voor die troon van God en dien hulle Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal by hulle bly. 16Hulle sal nie meer honger en nie meer dors kry nie; die son sal hulle nie brand nie en ’n hittegloed ook nie, 17want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei; en God sal al die trane van hulle oë afdroog.”
BOODSKAP: “Jesus is in die dorp” (Die hemel is verniet).
GEBED:
§ Baie dankie Here Jesus dat U in die dorp is, hier by ons! Dankie dat U vir ons deur hierdie skildery van Openbaring 7, verseker het dat U ons Herder is wat ons saam met U na hierdie wonderlike plek, die hemel, wil neem. U kan dit doen, want U is die Lam van God, wat dit vir ons moontlik gemaak het deur U opstanding, om deel te word van hierdie pragtige skildery.
§ Ons weet dat, omdat ons nog nie finaal deel is van hierdie skildery nie, ons nog binne-in hierdie stukkende, gebroke wêreld woon en dat daar mense is wat pyn, hartseer, verlies beleef. Ons woon in ‘n land wat gebuk gaan onder geweld, aggressie, mishandeling, misverstand, haat, maar U het ‘n Meesterplan vir alles wat in hierdie wêreld gebeur. U belofte is, dat U alles ten goede laat meewerk vir dié wat U liefhet en na U voorneme geroep het.
§ Ons hou aan elkeen van U belofte vas, asof ons lewe daarvan afhang! Dankie vir U opstanding en U oorwinning van die dood. U het opgestaan en U lewe en so sal ons saam met U lewe as U kinders. Dankie dat U niemand oorslaan nie maar aan elke mens op aarde die kans gee om deel te word van hierdie skildery van Openbaring 7. U het vir ons die pad oopgemaak as Herder én as Lam! Aan U die lof en eer en aanbidding, Vader-God, in die Naam van Jesus Christus! Amen.
LIED – Lied 523: 3 en 4
SEëNGROET
Liturg: Gaan nou in die vrede van Jesus Christus om God en jou naaste met liefde te dien.
Gemeente: Ons gaan in die Naam van die opgestane en verheerlikte Here.
Liturg: Mag die seën van ons Vader en van Jesus Christus ons Here en van die Heilige Gees met jou wees, nou en vir altyd.
LIED: - Lied 314
Die 4de Sondag in Paastyd word Goeie Herder Sondag, ook Jubilate genoem (Ps 23 en 66).
Om jou tyd as herder met jou skape deur te bring, het tot gevolg dat daar ’n nou band tussen herder en sy skape ontstaan. ‘n Herder ken sy skape so goed dat hy onmiddellik weet wanneer ‘n skaap iets makeer of hulp nodig het
Jesus Christus Self het gesê dat Hy as Goeie Herder Sy eie skape goed ken (Jh 10:14a). Sy skape ken Hom ook (Jh 10:14b) daarom, as Hy hulle roep, reageer hulle op sy roepstem (Jh 10:4–5).
Die feit dat ’n herder sy kudde beskerm en lei, het daartoe aanleiding ge-gee dat God as Herder van Israel bestempel is (Ps 23:1; 80:2; Jes 40: 11; Jer 31:10; Eseg 34:12), en ook Jesus as die Goeie Herder (Jh 10:1–16).
Op Goeieherder-Sondag put die kerk van Jesus blydskap uit die verkondiging dat Jesus ons Herder is en betuig ons as Sy kudde dankbaarheid teenoor God vir Sy beskerming teen vyande, vir Sy leiding sowel as vir Sy sorg waar-deur Hy ons die lewe gee en ons beskerm – soos ‘n herder sy skape....
INLEIDING
"Christianity begins where religion ends . . . with the resurrection" (Herbert Booth Smith).
Paasfees is die hoogtepunt van die kerkjaar wanneer ons die opstanding van Jesus uit die dood herdenk.
Dis asof gelowiges die oorwinning van Paasfees nie genoeg kan vier nie, en daarom strek die viering van die opstanding oor 50 dae, van die opstanding (8 Apr) tot met die uitstorting van die Heilige Gees (27 Mei).
Die reis van Paasfees begin by sondebesef en selfondersoek met “As-Woensdag” en eindig by die vuur van Pinkster. Ons berei ons dus voor om die uitstorting van die Heilige Gees te vier
Die opstanding is so sentraal in die evangelie dat dit onmoontlik is om ‘n Christen te wees en nie die opstanding te vier nie. Wie Jesus se opstanding ernstig opneem, vind dat dit hier om veel meer gaan as oppervlakkige goedgelowigheid in die positiewe dinge in die lewe.
Die sentrale simbool van Paasfees is die lig wat deurbreek. Die opkomen-de son herinner ons elke dag aan Christus se oorwinning oor die dood.
Dis herfs by ons in Afrika. Dit lyk asof die bome sterf as hulle hulle goue blare afgooi. Die natuur demonstreer hoe diep ons geval het. Daarom is ons vreugde soveel groter as ons daaraan dink dat Jesus die dood vir ons oorwin het toe Hy opgestaan het uit die graf!
OPENBARING
Op 7:9-17 bring 2 NBe sake bymekaar: Jesus Xtus IS Herder EN Lam!!
Openbaring is vir die leser soms soos ’n misterieuse boek, nie maklik om met so baie simboliek te verstaan nie. Dit handel oor ’n tyd waarvan ons min weet, en is geskryf in ’n literêre vorm wat ons nie eintlik ken nie.
Openbarin. is ’n apokaliptiese werk oor die “eindtyd”. Alles wat die eindtyd voorafgaan, word in simboliese taal en met gebruik van beelde beskryf.
GOD SE VISIE
Die doel van die visioene in Openbaring is om die kerk van die Here Jesus te help glo om, deur vervolging en dwaling heen, in geloof, die Onsienlike te bly sien.
Die identiteit van die kerk as liggaam van Christus, staan onder Hom as die één Hoof en Here van almal. Aanbidding gaan oor die geloofsgemeen-skap as sigbare eenheid en heelheid.
God se visie is die eenheid van die kerk as Sy liggaam op aarde – nie noodwendig enersheid nie!
GOD SLAAN NIEMAND OOR NIE!
Op. 7 is die gedeelte wat dit duidelik maak dat almal welkom is by God!
§ Die hemel is nie ‘n eksklusiewe bestemming vir die belangrikes nie.
§ Die hemel sal wemel van mense uit elke stam, taal en nasie, nou reeds welkom by God.
§ God skep geleentheid vir elkeen wat hierdie boodskap hoor, om ‘n bewustelike keuse vir Jesus Christus te maak!
Johannes sien in sy visioen hierdie groot menigte uit elke nasie, stam, volk en taal, wat te midde van verdrukking getrou aan God gebly het, die 144 000 (7:4), ‘n simboliese getal wat bestaan uit:
§ Die getal 12 -vir die gelowiges van die ou verbond; maal
§ Die getal 12 vir die nuwe testament; maal
§ Die getal 10x10x10, simboliese vir volmaaktheid (1000).
§ Die 24 ouderlinge is simbolies die totaal van die gelowiges van die Ou en Nuwe Testamente.
§ Die vier lewende wesens stel die hele skepping voor.
§ Die wit klere van die regverdiges dui op sondelose volmaaktheid danksy die offer van Jesus.
§ Die groot verdrukking waarna verwys word dui waarskynlik op die vervolging van die kerk deur alle eeue eerder as net op ‘n spesifieke tydperk van verdrukking.
DAAR IS HOOP VIR DIE WêRELD!!
Paastyd beklemtoon dat die Lam se heerskappy aangebreek het. Jesus se opstanding is nie slegs`n leerstelling nie, maar ‘n werklikheid wat die toekoms van alle menslike lewe wat in Hom glo, verseker!
Jesus het meer gedoen as om Sy dissipels te leer om Sy teenwoordigheid te aanvaar en te waardeer. Hy het hulle – ook vir ons – geleer om te hoop, te bid en te werk vir die koms van die koninkryk van God aan die einde van hierdie aardse tyd.
§ Die opstanding is vir Christene dié teken van God se skeppende en lewegewende krag in ons wêreld.
§ Paastyd is die aankondiging van God se nuwe en regverdige skepping.
§ Dis hierdie hoop wat ons nou, vandag hier, verkondig en vier.
JESUS CHRISTUS IS DIE HERDER EN DIE LAM:
Die Oorwinnaar én die Een wat ons beskerm!
Op Goeieherder-Sondag word ons as gemeente van Jesus Christus, Sy liggaam – omdat ons deel het aan Hom – daaraan herinner: ons is self Sy skape wat die beskermende sorg van `n liefdevolle Herder beleef.
As die skape van Jesus se kudde moet ons leer om Hom volkome te vertrou as ons liefdevolle Herder. As Lam ken Hy ons omstandighede.
“In die hemel” is die oorwinning oor die bose en die dood reeds deur Jesus Xtus behaal. Net een mag beheer die geskiedenis.
Die oënskynlike oorheersing van die bose in menslike sake is deel van God se oorwinningsplan; wie geloofsgetrou deur lyding en vervolging kom, ontvang die loon van die ewige lewe met God.
Ons menslike geskiedenis het ‘n doel op aarde. Die doel van die visioene is om diegene wat lyding en vervolging beleef, aan te moedig en te versterk met die openbaring van hierdie oorwinning wat vas en seker is!
Openbaring 7:9-17 is `n ware gesig van die toekoms. Hierdeur wil die Here ons sterk maak om nie moedeloos te word langs die pad nie.
Hierdie pad se einde is in God se “tent” – Sy woonplek, die hemel, Sy tempel, voor Sy troon van genade. Die einde is in die arms van die reddende God self, God op die troon, omring deur die lofsange van die een kerk, Sy liggaam op aarde.
REDDING VIND SPESIFIEK OP GOD SE MANIER PLAAS
Ek kan net deel wees van hierdie skildery wat God hier voor ons openbaar as die ruiltransaksie vir my lewe plaasvind deur die bloed van Jesus Xtus.
Die oomblik as ek al my vertroue in Jesus plaas, red God my deur Sy genade, word ek deel van die skare rondom die troon van God wat uit-roep: Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!
Ons lewe egter steeds in ‘n bose en perverse wêreld wat al hoe meer uit pas raak met God se Woord. Daarom is dit soveel te meer nodig om elke dag my lewe ‘my klere’ te reinig met die bloed van die Lam!
As ek Jesus Christus die Here van my lewe gemaak het en Hom volg, is ek reeds deel van die groot menigte wat rondom Sy troon vergader, geklee met klere wit gewas deur die bloed van die Lam. Jh 14:6
Dis hierdie menigte, waarvan God jou en my nie WIL uitsluit nie. Dis ons, wie God deur Jesus as Herder en as Lam wil beskerm van pyn en lyding, onnodige hartseer en seerkry. 15Daarom is hulle voor die troon van God en dien hulle Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal by hulle bly. 16Hulle sal nie meer honger en nie meer dors kry nie; die son sal hulle nie brand nie en ’n hittegloed ook nie, 17want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei.....”
As al die profesieë in die Woord van God dan waar geword het, sal hierdie profesie ook in vervulling gaan vir jou en my! Ek glo dit met my hele hart!
DIE RESULTAAT VAN GOD SE MANIER VAN REDDING
Die ewige lewe, by die lewende God, IS moontlik vir ALMAL! Maar net deur die bloed van die LAM!
Dit beteken dat ek en jy, as dit waar is van ons, vol ongekende vreugde en blydskap in die teenwoordigheid van die lewende God sal staan na Jesus se terugkeer aarde toe!
Ekself kies om deel te wees van die groot menigte met wit klere wat rondom die troon staan! Ek wil deel wees van hierdie pragtige skildery wat God skilder hier in Openbaring 7!
DIE BOODSKAP VAN OPENBARING:
Is dat Jesus Xtus reeds die finale oorwinning behaal het! Elkeen wat Hom onvoorwaardelik volg, sal saam met Hom deel in hierdie oorwinning!
Die Lam in die middel van die troon is, sal jou en my herder wees en Hy sal ons na die fonteine met die water van die lewe lei – tree vir tree, met ons hand styf in Sy hand asof ek die enigste persoon in die hele wêreld is.
Daar word vertel van Dwight Moody, ‘n prediker uit die vorige eeu dat ‘n geweldige storm opgesteek het toe hy op ‘n boot was. Die mense op die boot was tot die dood toe beangs maar hy was rustig. “Is jy nie bekommerd ons vergaan nie?” “Nee wat, ek het een suster in Chicago en ‘n ander suster in die hemel en ek gee nie om wie ek eerste sien nie.”
Is dit ook nou jou gesindheid, nadat jy hierdie wonderlike versekering van God se openbaring ontvang het!
SLOT
Die hemel is verniet, dit kos niks nie. Al wat ek en jy moet doen is om Jesus Christus, die Lam van God, te volg, onvoorwaardelik, volgens die openbaring van Sy Woord en onder die leiding van Sy Heilige Gees!
GRATIS! PRAGTIGE HUISE WORD WEGGEGEE!
In ‘n VOLMAAKTE STAD!
· 100% suiwer water, GRATIS!
· Geen munisipale rekeninge nie!
· Geen eiendomsbelasting nie!.
· Gratis 24/7 beligting, die helderste!
· Plaveisel van egte goud.
Niks onwensliks is in die stad nie!
Alles splinternuut!
Perfekte gesondheid gewaarborg!
‘n Lewenswyse, vry van ongelukke, kapings, roof, moord en inbraak!
Die mooiste musiek! Gratis vervoer!
VERSEKER JOU PLEK, VANDAG NOG! IN DIE NUWE JERUSALEM!